STAPSOLDAATJIE

Hierdie gediggie is opgedra aan my Oudste. Sy naam beteken nie verniet “Brave warrior” of “dapper in die stryd” nie! Toe ek 14 weke swanger was met hom het my blindederm gebars. Ek moes ‘n noodoperasie kry… voor die narkotiseur my in teater instoot, buk sy af en kyk stip in my oë: “Jy besef daar is soos ‘n 80% kans dat jou babatjie kan aborteer?”

Ten spyte van alles, is Oudste vandag lewend en gesond.

Blou-gevlekte vingertjies
En kleine modder-voetjies
Skulpie-oortjies, Glimlag-bekkie
Knop-neusie met son-sproetjies

Klim en klouter, klein kabouter
Spring en hop, balle skop
Swaai swaai, skoppelmaai
Skaterlag en kekkelkraai

Inkleur, teken, blokkies bou
Die hoogste toring –
“Hier’s hy nou!”
Jou ogies blink, jy glimlag trots
“Die wyse man bou sy huis op die rots!”

Rympies opsê, liedjies sing
Handjies klap, dans in ‘n kring
Resies hardloop – “Ek gaan wen!”
Wat ‘n voorreg om jou te ken!!

MY REGTERHAND

Ek wil graag Vrouemaand met ‘n storie oor ‘n merkwaardige vrou, afsluit. Sy is my kinders se oppasser, ons huishoudster en inspireer my daagliks. Makhulu. Ouma.

Deur die venster sien ek hoe die klein, fyn vroutjie nader stap. Ons interkom-klokkie lui en ek weet dis sý. Sy’s perfek op tyd vir werk. Sy moes vanoggend ver stap – vanaf die taxi ranks ‘n bus vang, en dan weer ‘n ent se stap tot by ons huis aan die bopunt van die woonbuurt. Ek sluit solank die voordeur oop en Rupert spring opgewonde onder my voete rond. Hy’s bly dat sy hier is – sy’s nog van die min mense wat behoorlik vir hom aandag gee (ongelukkig met die 2 kleintjies in die huis het ons interaksie met Rupert afgewater na “af Rupie” en “nee, Rupie”!)

Soos sy nader kom, kan mens sien sy stap effe mank. Net effens. As jy mooi kyk, is die letsel steeds daar…maar haar postuur is regop. Sý is ‘n trotse vrou.

Ek vertrou niemand anders met my kinders nie. Sy het 4 van haar eie stoksielalleen grootgemaak en dan was sy ‘n tweede mamma vir Oudste toe ek moes teruggaan werk toe.

My Regterhand. Ek ken min vroue soos sy. Die diep, donker valleie wat sy al moes trotseer, wens ek nie eers my vyand toe nie. En steeds bly sy staande. Ten spyte van al die uitdagings, die trauma, die hartseer en die pyn.

In 2015 is haar een nier verwyder. Daar was ‘n verdagte sistiese letsel op die ‘MRI scan’ en so moes die nier toe uit. Dit was ‘n hengse operasie en die herstel was lank… Intussen het sy ook met ‘n simpel senuwee in haar onderbeen gesukkel. Dié het naalde en spelde en soms ‘n dooie gevoel veroorsaak.

In 2016 verloor sy haar permanente werk by ander mense wat verhuis het – dít was ons gesin se redding. Haar aanvanklike verlies en hartseer was ons wonderwerk. Ek moes terug werk toe, en wou bittergraag my seuntjie in bekende hande los…

2018 was ‘n ‘rollercoaster’ van siekte, skok, hartseer, letterlike pyn en wonderbaarlike oorwinnings. Sy is postmenopausaal en het ewe skielik swaar begin vloei…vir 2 maande lank. Sy is kort daarna met Endometriële kanker (binnewand van die baarmoeder) gediagnoseer en moes Tygerberg toe vir ‘n totale histerektomie…dank Vader, dit het nog nie versprei nie, en sy is toe 100% genees!

Tydens haar verjaarsdag in November het sy gesien en beleef wat geen ma ooit moet beleef nie: haar seun, haar jongste kind, is deur ‘n bende aangeval by die nabye kafee toe hy gaan lugtyd koop het. Hy is wreedaardig met ‘n panga verniel en vir die dood agtergelaat. Deur God se genade het hy merkwaardig herstel.

Dit bring ons by hierdie jaar. Die beroerte in Maart-maand het nie haar lewe geneem nie, maar dit het wel ‘n litteken gelos.
Die 2de aanval op haar seun (dié keer met ‘n koeël in die been) het seker die grootste wond agtergelaat…

My Regterhand. Sy bly steeds staande. Sy bly steeds trots en terselfdertyd nederig… en vol liefde. Al voel sy self swak, is sy sterk. In Hom. En vir ons.