OUMAS (& OUPAS)

Dit is ‘n ongelooflike voorreg as oupa en ouma naby genoeg bly om gereeld oor en weer te kan kuier. Kleinkinders hou die grootouers jonk😉 en oupas en oumas kan soveel wyshede vir ons kinders leer en onvoorwaardelike bederf-liefde in hul hartjies deponeer.

‘n Mamma met ‘n pasgebore baba het iemand nodig wat vir babalyfie kan vashou, dat sy net vinnig iets kan eet of stort of aantrek of badkamer toe gaan – dat sy net weer mens kan voel. Dis wonderlik as Ouma of selfs Oupa naby is om hand by te sit.

‘n Moëe mamma is ook bitter baie dankbaar as Ouma die kinders bietjie kan besig hou – veral die besige kleuters met hulle oulike sê-goedjies en houdingtjies. Díé mini-mensies kan wel soms baie veeleisend raak as daar ‘n klein babalyfie ook in die huis is… (sien gerus “Die Baba-siklus” storie)

In ons geval, bederf Ouma en Oupa ons dikwels met saam-eet middagetes of ons ry uit na ‘n lekker restaurant met ‘n mooi uitsig. Dis presies wat hierdie ‘cabin-fever’-mamma nodig het om nie heeltyd net soos ‘n ‘jersey’ koei te voel nie!

Ek dink dis belangrik om aan die Oupas en Oumas spesifiek te kommunikeer oor wat jy van hulle verwag en hoe hulle jou kan help en bystaan. Elkeen se situasie lyk verskillend…

Mammas, dit is ook belangrik om grense te stel. Jy en jou huweliksmaat besluit saam oor hoe julle jul kinders wil grootmaak, die waardes wat jul hul gaan leer en hoe julle gaan dissiplineer ens. Grootouers moet die grense wat julle stel, respekteer. Al stem hul nie noodwendig daarmee saam of is dit nie dieselfde manier waarop hulle jóú groot gemaak het nie. (Hierdie kan soms ‘n taai toffie wees!)

Oumas (en Oupas), dit sal wonderlik wees as julle betrokke en beskikbaar kan wees…sonder om te veel voor te skryf. Om raad te gee wanneer daar vir jou gevra word… In my geval, het ek begin voel my ma laat my nie toe om die mamma te wees nie. Ek het gevoel my manier van dinge doen is nie goed genoeg nie. Want dis nie háár manier nie. Die oorsaak van hierdie “inadequate” gevoelens is ‘n kombinasie van postpartum hormone, slaap-tekort en leuens van die vyand. Oumas, wees maar bietjie meer sensitief daarvoor en luister na jou dogter/skoondogter se hart. As sy kla of huil, wees net daar. Sy’s op ‘n baie kwesbare en uitdagende plek in haar lewe, en gewoonlik wil sy graag net ‘n klankbord hê…en nie regtig iemand wat kom met lyste van “oplossings” nie.

Oumas, dit beteken nie jy het nóóit ‘n geldige opinie of moet op eiers loop nie! (Ek’s seker jy weet waarvan jy praat! Jy het immers jou kinders mooi groot gekry 😉) Dis maar net ‘n fyn balans van die regte hoeveelheid ondersteuning, sonder om “judgemental” oor te kom (al bedoel jy goed). Laat haar toe om self te probeer, leer en foute te maak – solank dit nie dodelik is of ewigheidskade aanrig nie!

Oumas, val maar eerder in by die ma. Vra byvoorbeeld eers wat die kinders mag eet of nie mag eet nie. Dieselfde reëls wat by die huis geld, moet by Ouma se huis ook toegepas word. Dubbelstandaarde is frustrerend en verwarrend. Konsekwentheid is die sleutel.

(Nuwe) mammas, ek wil afsluit deur te sê dat ons ook ekstra bietjie genade met die oumas moet hê. Ons moet onthou hulle was eens op ‘n tyd ook die mamma – en dít is wat hulle ken en onthou…Nóú moet hul ‘n splinternuwe rol aanleer en dít bring dalk onsekerhede en misverstande…
“Have a little grace. It goes a long way.”

MY REGTERHAND

Ek wil graag Vrouemaand met ‘n storie oor ‘n merkwaardige vrou, afsluit. Sy is my kinders se oppasser, ons huishoudster en inspireer my daagliks. Makhulu. Ouma.

Deur die venster sien ek hoe die klein, fyn vroutjie nader stap. Ons interkom-klokkie lui en ek weet dis sý. Sy’s perfek op tyd vir werk. Sy moes vanoggend ver stap – vanaf die taxi ranks ‘n bus vang, en dan weer ‘n ent se stap tot by ons huis aan die bopunt van die woonbuurt. Ek sluit solank die voordeur oop en Rupert spring opgewonde onder my voete rond. Hy’s bly dat sy hier is – sy’s nog van die min mense wat behoorlik vir hom aandag gee (ongelukkig met die 2 kleintjies in die huis het ons interaksie met Rupert afgewater na “af Rupie” en “nee, Rupie”!)

Soos sy nader kom, kan mens sien sy stap effe mank. Net effens. As jy mooi kyk, is die letsel steeds daar…maar haar postuur is regop. Sý is ‘n trotse vrou.

Ek vertrou niemand anders met my kinders nie. Sy het 4 van haar eie stoksielalleen grootgemaak en dan was sy ‘n tweede mamma vir Oudste toe ek moes teruggaan werk toe.

My Regterhand. Ek ken min vroue soos sy. Die diep, donker valleie wat sy al moes trotseer, wens ek nie eers my vyand toe nie. En steeds bly sy staande. Ten spyte van al die uitdagings, die trauma, die hartseer en die pyn.

In 2015 is haar een nier verwyder. Daar was ‘n verdagte sistiese letsel op die ‘MRI scan’ en so moes die nier toe uit. Dit was ‘n hengse operasie en die herstel was lank… Intussen het sy ook met ‘n simpel senuwee in haar onderbeen gesukkel. Dié het naalde en spelde en soms ‘n dooie gevoel veroorsaak.

In 2016 verloor sy haar permanente werk by ander mense wat verhuis het – dít was ons gesin se redding. Haar aanvanklike verlies en hartseer was ons wonderwerk. Ek moes terug werk toe, en wou bittergraag my seuntjie in bekende hande los…

2018 was ‘n ‘rollercoaster’ van siekte, skok, hartseer, letterlike pyn en wonderbaarlike oorwinnings. Sy is postmenopausaal en het ewe skielik swaar begin vloei…vir 2 maande lank. Sy is kort daarna met Endometriële kanker (binnewand van die baarmoeder) gediagnoseer en moes Tygerberg toe vir ‘n totale histerektomie…dank Vader, dit het nog nie versprei nie, en sy is toe 100% genees!

Tydens haar verjaarsdag in November het sy gesien en beleef wat geen ma ooit moet beleef nie: haar seun, haar jongste kind, is deur ‘n bende aangeval by die nabye kafee toe hy gaan lugtyd koop het. Hy is wreedaardig met ‘n panga verniel en vir die dood agtergelaat. Deur God se genade het hy merkwaardig herstel.

Dit bring ons by hierdie jaar. Die beroerte in Maart-maand het nie haar lewe geneem nie, maar dit het wel ‘n litteken gelos.
Die 2de aanval op haar seun (dié keer met ‘n koeël in die been) het seker die grootste wond agtergelaat…

My Regterhand. Sy bly steeds staande. Sy bly steeds trots en terselfdertyd nederig… en vol liefde. Al voel sy self swak, is sy sterk. In Hom. En vir ons.