B(L)OU-BLOKKE

Die nuutste gier by my 3-jarige is ‘n BLOU vierkantige doolhof-boksie (‘maze’) met ‘n silwer balletjie wat ek sommer eendag by Mambo’s gekoop het. Die ‘aim of the game’ is om die balletjie deur die doolhof te lei en al die gaatjies te vermy om sodoende by die volgende kant van die vierkantige boksie uit te kom. Mens begin by die maklikste kant met 2 gaatjies, dan 3, dan 4 en die laaste kant het 5.

My seuntjie wil dit bietjie anders doen. Die een met die 2 gaatjies is vervelig. Hy skud daai boksie op en af en heen en weer, want die balletjie moet aspris by die moeilikste kant uitkom. Hy wil dáár begin. By die een met die 5 gaatjies.
Ek moet sê, ek’s nogal gaande oor sy soeke na ‘n uitdaging. Hou so vol, boetie.

NS. Het sommer gewonder of hierdie nie so bietjie ‘n metafoor vir die lewe is nie…
• Soek die uitdagings, ‘challenge’ jouself en moenie tevrede wees met ‘boring’ nie.
• Gebruik die ‘stumbling blocks’ in die lewe eerder as BOU blokke…
hoër.
klim
En

STAPSOLDAATJIE

Hierdie gediggie is opgedra aan my Oudste. Sy naam beteken nie verniet “Brave warrior” of “dapper in die stryd” nie! Toe ek 14 weke swanger was met hom het my blindederm gebars. Ek moes ‘n noodoperasie kry… voor die narkotiseur my in teater instoot, buk sy af en kyk stip in my oë: “Jy besef daar is soos ‘n 80% kans dat jou babatjie kan aborteer?”

Ten spyte van alles, is Oudste vandag lewend en gesond.

Blou-gevlekte vingertjies
En kleine modder-voetjies
Skulpie-oortjies, Glimlag-bekkie
Knop-neusie met son-sproetjies

Klim en klouter, klein kabouter
Spring en hop, balle skop
Swaai swaai, skoppelmaai
Skaterlag en kekkelkraai

Inkleur, teken, blokkies bou
Die hoogste toring –
“Hier’s hy nou!”
Jou ogies blink, jy glimlag trots
“Die wyse man bou sy huis op die rots!”

Rympies opsê, liedjies sing
Handjies klap, dans in ‘n kring
Resies hardloop – “Ek gaan wen!”
Wat ‘n voorreg om jou te ken!!

TRIPPE TRAPPE TONE

Ek’s seker ek hét gekyk waar die eerste trappie is. Ek’s amper 100% seker…

Hierdie mamma het heel Vrydag soos ‘n absolute vrot ma gevoel! Ek het met baba en al by ons boonste verdieping se trap afgeval. Darem net tot in die helfte van die trap…maar nogsteeds… 😬 Eina.

Met my baadjie onder die een arm, dummy & Telement in die hand, selfoon in die gatsak en baba op die heup, het ek aan die bopunt van die trap gestaan en vlugtig afgekyk. Ek was haastig. Ek misgis toe die tweede trap vir die eerste een, en daar steier ek vooroor, met enkels wat swik en voete wat skraap, soos ek probeer om vastrapplek te kry! Toe ek die teëls sien nader kom, en ons 2 aanhou gly, besef ek ons ontmoeting met die grond is onvermydelik. Ek probeer vir boetiebaba nader trek, maar met die momentum (en sy 10kg lyfie) “ka-plaks” ons boude-eerste op die harde teëltrap. Ek kreun, en boetie snak na sy asem – toe begin hy hartverskeurend huil. Gelukkig hou ek hom steeds vas (hy het genadiglik nie uit my arms geglip nie!) en alhoewel hy opsigself ‘okay’ lyk, kan ek hoor hy’s in pyn. Ek gil histeries vir my man om te kom help, en soos hy vir baba uit my arms tel, voel ek my eie seer: my elmboog, my linkerboud, my enkel (díé het alreeds ‘n golfbal-swelsel aan die vorm).

Ons uitstappie na Ongevalle en X-strale bevestig: geen gebreekte/gedislokeerde bene. Dankie, Vader. My enkel is net sleg verstuit. Maar boetiebaba het ‘n diep sny onder sy 3de toontjie… Só wag ons toe vir die chirurg wat hom heelmoontlik teater toe sal moet neem vir narkose en steke…

Die chirurg kom sien ons toe ‘n paar uur later in die kindersaal (genade, maar dis sleg om ‘n kind – wat nog te sê van ‘n borsvoedende baba – nil per mond te hou! Ek’t as dokter-mamma beslis nuwe perspektief en empatie bygekry). Steke is toe nie nodig nie! Ons kan sy voetjie konserwatief met verbande behandel – halleluja!

Oudste, met sy klein hartjie en kinderlike geloof, het by die huis al vir mamma en boetie se voete gebid. Pappa noem na die hele gedoente hoe hy tóé al gesien het hoe die voetjie se swelling sak…

Boetiebaba se naam-betekenisse het in hierdie (kort) 7 maande vir my werklik “lewendig” geword: Kampioen en God is genadig. Deur al die “trials & tribulations”…deur septiese skok en breinvliesontsteking en brongiolitis…en sy ma wat heel simpel was om nie aan die trapreëling vas te hou nie… Hy is ‘n dapper klein mensie & God is altyd genadig.

TANTRUMS & TAAI TOFFIES

“Nee, Mamma moet. Mamma moet by my lê! Nie Pappa nie. Mamma!!!”

Só kerm-huil-skreeu my groot-oog amper-3-jarige kabouter net voor slaaptyd oor wie hý besluit het vanaand by hom moet lê tot hy na Droomland weggevoer word…

Dis al weer een van dáái dae. Daai hóógs uitdagende dae: van verseg-om-my-middag-slapie-by-die-skool-te-vat-en-nou-is-ek-totaal-verby-moeg-en-aaaaaalles-is-‘n-stryd!

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is ontsettend lief vir my 2 seuntjies. Maar party dae voel dit asof my geduld en kreatiewe-redenasie-vermoeëns tot die uiterste beproef word! Veral met Oudste (Boetiebaba praat (gelukkig?) nog nie terug nie, maar gil net in sy skril stemmetjie as hy gehóór wil word).

Terug by vroeër vandag:
Die groen plastiek-eetlepel móés eintlik blou gewees het, Rupert het sy hand gelek😱, en hý wou die asmapompie se oranje doppie “SELF” (julle ken mos daai woord😉🙈) afgehaal het. Emosies het behoorlik gesneeubal in ‘n sneeu(senu-ineen)storting…

Vanaand is almal moeg. Hierdie mamma het nog soveel om te doen voor dit mý beurt is om in te kruip. En hier sit Oudste Kabouter steeds kiertsregop en verseg om te slaap. “Want Mamma moet by my lê!” (Alhoewel Pappa nog altyd die laaste paar maande goed genoeg was!)…

Ek bid vir wysheid. Ek bid vir onderskeiding: Dat ek sal weet wat om te doen, wat om te sê.
Wanneer is dit als net die moegheid wat praat en wanneer is dit pure ongehoorsaamheid (soos wanneer hy aspris kliphard geluide maak as ek met manlief probeer praat)?

Wanneer moet ek grense stel en dissiplineer en wanneer het hy net liefde en aanvaarding nodig – net vir my nodig om by hom te wéés?

Vanaand het ek die “by-hom-te-wees” opsie gekies, my arms om sy snikkende lyfie gevou en hom net vasgehou. ‘n Paar sout-trane-soentjies op die wang en twee snot-tissues later, krul sy mondhoekies weer in ‘n half-glimlag op en soek sy groot oë myne. En ek weet in my hart dit was die regte besluit. Ons siele het ontmoet en ons verhouding het verdiep.

MY REGTERHAND

Ek wil graag Vrouemaand met ‘n storie oor ‘n merkwaardige vrou, afsluit. Sy is my kinders se oppasser, ons huishoudster en inspireer my daagliks. Makhulu. Ouma.

Deur die venster sien ek hoe die klein, fyn vroutjie nader stap. Ons interkom-klokkie lui en ek weet dis sý. Sy’s perfek op tyd vir werk. Sy moes vanoggend ver stap – vanaf die taxi ranks ‘n bus vang, en dan weer ‘n ent se stap tot by ons huis aan die bopunt van die woonbuurt. Ek sluit solank die voordeur oop en Rupert spring opgewonde onder my voete rond. Hy’s bly dat sy hier is – sy’s nog van die min mense wat behoorlik vir hom aandag gee (ongelukkig met die 2 kleintjies in die huis het ons interaksie met Rupert afgewater na “af Rupie” en “nee, Rupie”!)

Soos sy nader kom, kan mens sien sy stap effe mank. Net effens. As jy mooi kyk, is die letsel steeds daar…maar haar postuur is regop. Sý is ‘n trotse vrou.

Ek vertrou niemand anders met my kinders nie. Sy het 4 van haar eie stoksielalleen grootgemaak en dan was sy ‘n tweede mamma vir Oudste toe ek moes teruggaan werk toe.

My Regterhand. Ek ken min vroue soos sy. Die diep, donker valleie wat sy al moes trotseer, wens ek nie eers my vyand toe nie. En steeds bly sy staande. Ten spyte van al die uitdagings, die trauma, die hartseer en die pyn.

In 2015 is haar een nier verwyder. Daar was ‘n verdagte sistiese letsel op die ‘MRI scan’ en so moes die nier toe uit. Dit was ‘n hengse operasie en die herstel was lank… Intussen het sy ook met ‘n simpel senuwee in haar onderbeen gesukkel. Dié het naalde en spelde en soms ‘n dooie gevoel veroorsaak.

In 2016 verloor sy haar permanente werk by ander mense wat verhuis het – dít was ons gesin se redding. Haar aanvanklike verlies en hartseer was ons wonderwerk. Ek moes terug werk toe, en wou bittergraag my seuntjie in bekende hande los…

2018 was ‘n ‘rollercoaster’ van siekte, skok, hartseer, letterlike pyn en wonderbaarlike oorwinnings. Sy is postmenopausaal en het ewe skielik swaar begin vloei…vir 2 maande lank. Sy is kort daarna met Endometriële kanker (binnewand van die baarmoeder) gediagnoseer en moes Tygerberg toe vir ‘n totale histerektomie…dank Vader, dit het nog nie versprei nie, en sy is toe 100% genees!

Tydens haar verjaarsdag in November het sy gesien en beleef wat geen ma ooit moet beleef nie: haar seun, haar jongste kind, is deur ‘n bende aangeval by die nabye kafee toe hy gaan lugtyd koop het. Hy is wreedaardig met ‘n panga verniel en vir die dood agtergelaat. Deur God se genade het hy merkwaardig herstel.

Dit bring ons by hierdie jaar. Die beroerte in Maart-maand het nie haar lewe geneem nie, maar dit het wel ‘n litteken gelos.
Die 2de aanval op haar seun (dié keer met ‘n koeël in die been) het seker die grootste wond agtergelaat…

My Regterhand. Sy bly steeds staande. Sy bly steeds trots en terselfdertyd nederig… en vol liefde. Al voel sy self swak, is sy sterk. In Hom. En vir ons.






VANDAG VIER EK MY MAMMA

Sy verjaar! En ek is soooo dankbaar vir wie sy is en wat sy vir ons beteken! Wat ‘n ongelooflike voorreg om mens se ouers in hierdie leeftyd nog by jou te kan hê…en die belangrike rol wat oupas en oumas in kleinkinders se lewens speel, is onvervangbaar… #dankbaar

Mamma jy het my méér
as 9 maande gedra
Dankie dat jy altyd daar is
as ek sou vra

‘n Ware voorbeeld
van ‘n sterk en dapper vrou
Jy’t my geleer om lief te hê
en Jesus met my hele hart te vertrou

Dankie dat ons kan deel,
kan kuier, kan lag,
Dat jy altyd jou álles gee
sonder om iets terug te verwag

Jou passie en lewenslus
is aansteeklik
Jou hart vir die dinge van die Here,
inspirerend

Veels geluk, mooie Mamma,
omdat jy verjaar!
Mag God Mamma (vir ons onthalwe)
nog baie jare spaar!

SAAM

Sáám kan ons berge versit. Sáám kan ons oorwin. Sáám kan ons die wêreld verander. Een goeie daad op ‘n slag. Een glimlag op ‘n slag.

Moenie toelaat dat enige iemand (dis eintlik net die vyand) jou minderwaardig laat voel nie. Jy is uniek. Met al jou talente en gawes en letsels en tekortkominge en foute en al.

Ons het mekaar nodig.

Sáám.

Vrede, liefste mammas

Asseblief hou op
om jouself te vergelyk
Jy’s uniek en mooi
As mens binne kyk:
Jy is dapper
Jy is sterk,
Elke letsel
Elke merk –
skets in detail
jou verlede
Jy’t gekom tot híér
vir ‘n rede
Tree nader aan my
en strek uit jou hand
Sáám kom ons uit
aan die anderkant ♡

DIE HAMSTERWIEL

Dit voel die laaste tyd of ek op ‘n hamsterwielietjie vasgevang is en iemand het die hokkie se deurtjie styf toe gemaak. Ek beur net al aan vorentoe…ek móét vorentoe. Maar ek beweeg dan net mooi niks nie!😳 Vandag was beslis weer een van dáái dae – een vir die (mammadag)boeke…

Dit was ‘n warboel van snotneusies blaas, vuil vingertjies met ‘wetwipes’ afvee (na Oudste al weer die ou kole in die braai ontdek het – ek moet tóg vir manlief herinner om die braai skoon te maak), die swartkolle op die bank skoonmaak (ek was te laat met die ‘wetwipes’ 😬), neusdruppels ingooi (kleinboet háát dit), Panadostroop toedien, troos, eierbroodjies smeer (en Oudste soebat om asseblief ietsie te eet), saam met Oudste op die bed “bietjie gaan rus” (volgens hom gaan hy beslis nie slaap nie!), wéér troos, dan vir boetiebaba aan die slaap sus, net om te hoor hoe Oudste histeries in sy kamer huil… Gelukkig is my Regterhand ook in die mengelmoes van gebeure en ek stel haar gou aan om by kleinboet oor te vat (ek gaan regtig nog êrens ‘n huldeblyk aan haar skryf, want sjoe, sy’s een van die sterkste vroue wat ek ken …).

Bo in die kamer sit my kabouter kiertsregop, tamatierooi in die gesig, trane en snot wat loop (sorrie julle) en ‘n pynlike uitdrukking op sy gesiggie. Ek kan sien hy’s al weer koorsig… Jip, jy het reg afgelei… My 2 “mini-me’s” is siek. Al weer. Oudste kabouter is natuurlik laasweek vir die eerste keer in 6 weke terug skooltjie toe. Ons moes hom noodgedwonge vir ‘n tydjie uithaal oor hy al die skooltjie-kieme saam hom huistoe dra (dis hoe kleinboet in die hospitaal met meningitis opgeëindig het). Hy het dié keer nie eers ‘n week gehou tot die neusie begin loop het nie. En toe is dit boetie se beurt. En nou is dokter-mamma ook ‘n pasiënt. Probleem is net, vir mamma is daar nie rus nie. Huisdinge moet aangaan…en die kinders soek hul mamma. 100% van mamma.

Goeie d…donkie, besef ek nou: Ek’t al wéér te min water vandag gedrink…en daar lê my verlate 2 kopseerpille nog net so op die toonbank! Deur al die deurmekaarspul het ek (gelukkig) van my knaende min-slaap hoofpyn vergeet…

Vanaand is ek dankbaar vir ‘n stil huis. Ek luister…en hoor net Rupert, ons swart mini Schnauzer, se gesnork. Vanaand beteken die stilte: ons het dit “gemaak”, ‘we survived another day’, die kinders is rustig – pynvry en koorsvry. En hopelik is môre weer ‘n beter en helderder dag. Met méér grappies-en-lag en minder snot-en trane…

“Who’s with me”, mammas? 🙋🏼‍♀️

Vrede (amen!) & lekker slaap!

DEUR DIK & DUN

Ek het my al aan beide kante van die spektrum bevind: bietjie té maer en effe té mollig.

Op skool was my metabolisme ‘n kalorie-etende masjien. Ek kon pakke ‘Speckled Eggs’ en 150g boksies Smarties (in die fliek) opeet…sonder om ‘n gram ekstra op te tel!

In Graad 9 het ek ‘n noupassende swart fluweelrokkie na ons skool se Valentynsdans gedra. Ek sal nooit vergeet hoe een van die aantreklike ouens in die klas vierkantig voor my kom staan het, sy arms uitgestrek met hande op my kaal skouerknoppe. “Sjoe, maar jy’s…máér”, was sy woorde. Ek het yskoud geword. Dalk was dit van die koue aandlug deur die oop saaldeur. Dalk was dit van skok…en skaamte.

Nou, op amper-32, is die nagevolge van 2 swangerskappe duidelik op my lyf sigbaar. Rolletjies om die middel (ek’s nogsteeds te moeg om te oefen…) en rekmerke op my maag (veral om die naeltjie), “penmerke” op my bene (daar’s niks uitspattigs aan spatare nie), en ‘n hele paar ekstra gryshare. Ek pas nou net in my ‘fat jeans’ en ‘leggings’…

Ten spyte van alles, is ek lief vir my lyf. Ek weet hierdie vleesboksie gaan nóóit weer kan lyk soos die jong-bokkie op universiteit nie! En dis okay.

Met hierdie liggaam het ek 2 seuns tot volterm gedra. Met hierdie liggaam het ek hulle in die wêreld gebring. Met hierdie liggaam het ek, en kan ek steeds vir Jongste, voed. Met hierdie liggaam sus ek vir skreeuende Boetie aan die slaap (al breek my rug en arms later af!). Met hierdie liggaam omvou ek vir snikkende Oudste as hy van sy ‘balance bike’ afgeval het. Met hierdie liggaam omhels ek my familie en vriende. En met hierdie liggaam is ek lief vir my wederhelfte.

Mede-mamma,
Wees vandag lief vir jou lyf!
Ons vergeet soms waartoe ons liggaam (en siel en gees) instaat is.

Vrede,
Alyssa ♡

DIE STORT

Ek kan eerlikwaar sê: om te stort is een van die hoogtepunte van my dag…

My stort-tyd is my alleen-wees-tyd, my weer-soos-‘n-vrou-voel-tyd, my herlaai-tyd.

Na ‘n lang, uitdagende-fantastiese-vreugdevolle-uitmergelende dag (want dis hoe dit soms voel om ‘n ma te wees), is daar waarlik ‘n soort ‘magic’ daaraan as jy die stortdeur oopmaak en in die stoom-gevulde kapsule klim. Oudste is in die bed en jongste is óf in die wiegie óf in pappa se veilige arms…en dis dán wat ek vir die eerste keer daardie dag my t y d k a n v a t en r u s t i g wees…

In die warm stort, verander ‘n hang-skouer aspoestertjie in ‘n ‘pampered princess’ – al is dit net in my kop (‘crazy’ met hoe min ons mammas tevrede kan wees, nê?!).
Die warm water stryk die stres-knoppe uit my spiere en saam met die dag se vuil, spoel die ondraaglike voel-ek-kan-nie-meer-aangaan-nie moegheid (en negatiewe gedagtes) ook in die drein af…

Die lewe lyk (en ruik) sommer lekkerder na só ‘n mamma-me-time stortsessie en só sien ek weer kans vir die volgende dag.

Want dis hoe ek dit doen: een stort op ‘n slag. Een dag op ‘n slag. Happie vir happie. Trappie vir trappie.
Deur één tree op ‘n slag te gee, voel ek minder oorweldig. Ek vind weer nuwe inspirasie. En ek kan weer begin droom.

Vrede ♡