TANTRUMS & TAAI TOFFIES

“Nee, Mamma moet. Mamma moet by my lê! Nie Pappa nie. Mamma!!!”

Só kerm-huil-skreeu my groot-oog amper-3-jarige kabouter net voor slaaptyd oor wie hý besluit het vanaand by hom moet lê tot hy na Droomland weggevoer word…

Dis al weer een van dáái dae. Daai hóógs uitdagende dae: van verseg-om-my-middag-slapie-by-die-skool-te-vat-en-nou-is-ek-totaal-verby-moeg-en-aaaaaalles-is-‘n-stryd!

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is ontsettend lief vir my 2 seuntjies. Maar party dae voel dit asof my geduld en kreatiewe-redenasie-vermoeëns tot die uiterste beproef word! Veral met Oudste (Boetiebaba praat (gelukkig?) nog nie terug nie, maar gil net in sy skril stemmetjie as hy gehóór wil word).

Terug by vroeër vandag:
Die groen plastiek-eetlepel móés eintlik blou gewees het, Rupert het sy hand gelek😱, en hý wou die asmapompie se oranje doppie “SELF” (julle ken mos daai woord😉🙈) afgehaal het. Emosies het behoorlik gesneeubal in ‘n sneeu(senu-ineen)storting…

Vanaand is almal moeg. Hierdie mamma het nog soveel om te doen voor dit mý beurt is om in te kruip. En hier sit Oudste Kabouter steeds kiertsregop en verseg om te slaap. “Want Mamma moet by my lê!” (Alhoewel Pappa nog altyd die laaste paar maande goed genoeg was!)…

Ek bid vir wysheid. Ek bid vir onderskeiding: Dat ek sal weet wat om te doen, wat om te sê.
Wanneer is dit als net die moegheid wat praat en wanneer is dit pure ongehoorsaamheid (soos wanneer hy aspris kliphard geluide maak as ek met manlief probeer praat)?

Wanneer moet ek grense stel en dissiplineer en wanneer het hy net liefde en aanvaarding nodig – net vir my nodig om by hom te wéés?

Vanaand het ek die “by-hom-te-wees” opsie gekies, my arms om sy snikkende lyfie gevou en hom net vasgehou. ‘n Paar sout-trane-soentjies op die wang en twee snot-tissues later, krul sy mondhoekies weer in ‘n half-glimlag op en soek sy groot oë myne. En ek weet in my hart dit was die regte besluit. Ons siele het ontmoet en ons verhouding het verdiep.

GEDULD

Om ‘n mamma van ‘n woelige 2-jarige te wees, is vir my een van die mees ‘humbling’ ervarings nóg!
Hy hou my op my tone, maar terselfdertyd stewig op my knieë🙏

‘n Winkeluitstappie is lankal nie meer so eenvoudig soos jouself regkry, handsak gryp, ‘n paar “greenbags” agter in die kar gooi (ek probeer hard om nie meer plastieksakke te koop nie!😬) en daar gaan jy nie!

Nee, met hierdie klein woelwater word elke grens getoets…. “Ek wil nie daai t-shirt aantrek nie. Nee, ook nie daai een nie! Híérdie een, hy’s lekker” (ons het die woord NEE agtergekom) ….. “Nee, mamma, ek ry nou eers op my balance bike”…. “Ek het ‘n piepie” (ons ‘potty train” tans)
En dan is daar natuurlik al die wonderlike ‘space ship’ knoppies op die motor se paneel wat gedruk móét word …”Wat doen hierdie een en wat doen híérdie een, mamma?”
Díé leergierige 2-jarige se nuuskierige ogies mis niks!

Op die foto verskyn my aspatat by die winkelsentrum se parkeerarea. “Ons” moet nou eers op elke sement-bal (watookal mens hierdie ‘obstacles’ noem?) gaan sit voor ons in die motor kan klim! Elkeen word in ‘n ry uitgetoets. “Kyk die snaakse balle, mamma!”
….’Nevermind’ sy huilende honger kleinboet van 2-maande en sy ma en ouma wat hom ‘n paar keer moet aanmoedig om te “Kom nou, liefie”!

Aaaaagh! Soms voel dit of ek kan bars van ongeduld en sommer net frustrasie…ek moet bieg.
Maar kyk nou net hierdie oulike mensie: hy ‘explore’ en leer elke dag nuwe opwindende dinge! Ek wil nooit die ontdekkingsreisiger binne hom tem nie.
(Alles binne perke tesame met gehoorsaamheid, natuurlik) 😉😉

Ek dink die Here wil my iets leer… 😉

“Patience is a virtue”
Patience (noun) = the ability to wait calmly; the capacity to accept delay without getting angry | Virtue (noun) = a quality or trait that most people consider to be morally good or desirable in a person

Vrede & Vreugde!