STAPSOLDAATJIE

Hierdie gediggie is opgedra aan my Oudste. Sy naam beteken nie verniet “Brave warrior” of “dapper in die stryd” nie! Toe ek 14 weke swanger was met hom het my blindederm gebars. Ek moes ‘n noodoperasie kry… voor die narkotiseur my in teater instoot, buk sy af en kyk stip in my oë: “Jy besef daar is soos ‘n 80% kans dat jou babatjie kan aborteer?”

Ten spyte van alles, is Oudste vandag lewend en gesond.

Blou-gevlekte vingertjies
En kleine modder-voetjies
Skulpie-oortjies, Glimlag-bekkie
Knop-neusie met son-sproetjies

Klim en klouter, klein kabouter
Spring en hop, balle skop
Swaai swaai, skoppelmaai
Skaterlag en kekkelkraai

Inkleur, teken, blokkies bou
Die hoogste toring –
“Hier’s hy nou!”
Jou ogies blink, jy glimlag trots
“Die wyse man bou sy huis op die rots!”

Rympies opsê, liedjies sing
Handjies klap, dans in ‘n kring
Resies hardloop – “Ek gaan wen!”
Wat ‘n voorreg om jou te ken!!

INTIMITEIT

Volheid en glorie
My lewe, U storie
My begeertes, U drome
Geplant langs waterstrome

Stukkie vir stukkie
Word stil vir ‘n rukkie
Koester verhouding
Net dán kan dit uitkring

Gefluisterde soene
Trek uit my skoene
Bely met my mond
Dis Heilige grond

VANDAG VIER EK MY MAMMA

Sy verjaar! En ek is soooo dankbaar vir wie sy is en wat sy vir ons beteken! Wat ‘n ongelooflike voorreg om mens se ouers in hierdie leeftyd nog by jou te kan hê…en die belangrike rol wat oupas en oumas in kleinkinders se lewens speel, is onvervangbaar… #dankbaar

Mamma jy het my méér
as 9 maande gedra
Dankie dat jy altyd daar is
as ek sou vra

‘n Ware voorbeeld
van ‘n sterk en dapper vrou
Jy’t my geleer om lief te hê
en Jesus met my hele hart te vertrou

Dankie dat ons kan deel,
kan kuier, kan lag,
Dat jy altyd jou álles gee
sonder om iets terug te verwag

Jou passie en lewenslus
is aansteeklik
Jou hart vir die dinge van die Here,
inspirerend

Veels geluk, mooie Mamma,
omdat jy verjaar!
Mag God Mamma (vir ons onthalwe)
nog baie jare spaar!

LEWENSDOEL

Jesus, Jesus
‘n Veilige vesting is U naam
Die naam waaraan ek vasklou
as alles rondom my vergaan

My stem is weg
My bene bewe
Sal U ooit my
(ongeloof)
kan vergewe?

Met knieë gebuig
en arms omhoog
My oë is nat,
maar my keel is droog

In die reënboog óf die reën
In die swaarkry óf die seën

U bly dieselfde
U bly getrou
As die lewe skaaf
kan U breek en bou

Wie ek is
is vir U glorie
In my hart
skryf U U storie

Ware liefde
en sielsgenoot
Aanmekaar geweef
in my moederskoot

In U palms
staan my naam
My lewensdoel
bereik ons sáám.

SAAM

Sáám kan ons berge versit. Sáám kan ons oorwin. Sáám kan ons die wêreld verander. Een goeie daad op ‘n slag. Een glimlag op ‘n slag.

Moenie toelaat dat enige iemand (dis eintlik net die vyand) jou minderwaardig laat voel nie. Jy is uniek. Met al jou talente en gawes en letsels en tekortkominge en foute en al.

Ons het mekaar nodig.

Sáám.

Vrede, liefste mammas

Asseblief hou op
om jouself te vergelyk
Jy’s uniek en mooi
As mens binne kyk:
Jy is dapper
Jy is sterk,
Elke letsel
Elke merk –
skets in detail
jou verlede
Jy’t gekom tot híér
vir ‘n rede
Tree nader aan my
en strek uit jou hand
Sáám kom ons uit
aan die anderkant ♡

DANKBAARHEID

Tel jou seëninge elke dag,
tel hul een vir een
Hou op worry, begin net lag
Kom ons huppel in die reën

Kan jy sien,
proe en hoor?
Word eers stil,
jy’s op die regte spoor…

Het jy ‘n dak oor jou kop?
Én kos én klere?
Kom ons hou op stres
en begin lewe!

Vrede vir julle ♡

MAGTELOOS

Voel ander mammas ook so magteloos?
Ek wil jou net só graag troos…
Ek voel ek het al ALS probeer
Maar hoekom klink jy steeds hartseer?
Jou skrille-skreeu sny tot binne my
Niks sou my óóit kon voorberei
Soms voel ek vreeslik swak en dom
Hierdie is my beste poging
Al is dit skeef en krom
Weet net mamma is SO lief vir jou
En wil jou altyd naby hou.


Ek wens ek het geweet hoe om jou te troos…ek wens jy kon my sê…dit lyk of jy in pyn is….dalk ‘n wind wat vassit? Dalk krampe? Dalk oorpyn? Miskien kry jy tande? (Dis dalk nog ‘n bietjie te vroeg daarvoor…) Kry jy koud? Kry jy te warm? Jou doek is droog. Ek’t dit sopas geruil. Is jy nog honger?…

Klink dit vir jou bekend?
Voel jy ook so? Het jy ook al herhaaldelik deur dié soort lysie in jou kop gegaan?

Vrede vir jou, mede-mamma.