KYK OP

Soveel keer wanneer dit swaar gaan – as ek mismoedig en ‘down’ voel (jy weet daai los-my-uit-en-moenie-met-my-praat-nie-gevoel) –
dan is ek geneig om na my hande te kyk…
na my foon te kyk…
of na my voete te kyk…
na die grond te kyk…
na die lelike-maar-praktiese-bottelgroen-nylon-vasgeplakte-blokkies-mat by die werk te kyk.

En so is dit júís in hierdie tye, die moedelose en oorlaaide tye, wat ek boontoe moet kyk, die gordyn moet ooptrek en die lig inlaat!

Soms wanneer ek effens te swak voel om dit self te doen, is ek ongelooflik dankbaar as daar ‘n goeie vriendin is wat die venster sommer wýd oopswaai en die vars lug én lig laat instroom…
Vir wie kan óns dalk vandag daardie vriendin wees?

Mamma, jy het nou genoeg af gekyk…
af na jou afgesloofde hande…
af na jou geskifde-punt-neus skoene…
af na jou situasie, jou tekortkominge, jou vrese, jou seer.

Vandag kyk ons op.
Laat die sonstrale op jou wange speel, laat toe dat die helder lig in jou oë glinster soos jy die grasgroen bome en oneindige blou lug raaksien (en as jy in die Kaap bly, kyk op na die berge!).
Laat jou mondhoeke boontoe krul soos jy vir geen rede net begin glimlag.
Net omdat jy kan.
Net omdat jy nog híér is.
En net omdat jy (en ek) vandag ten minste één ding kan tel waarvoor ons dankbaar kan wees…

Kom ons kyk op.

Psalms 121:1-8

DIE HAMSTERWIEL

Dit voel die laaste tyd of ek op ‘n hamsterwielietjie vasgevang is en iemand het die hokkie se deurtjie styf toe gemaak. Ek beur net al aan vorentoe…ek móét vorentoe. Maar ek beweeg dan net mooi niks nie!😳 Vandag was beslis weer een van dáái dae – een vir die (mammadag)boeke…

Dit was ‘n warboel van snotneusies blaas, vuil vingertjies met ‘wetwipes’ afvee (na Oudste al weer die ou kole in die braai ontdek het – ek moet tóg vir manlief herinner om die braai skoon te maak), die swartkolle op die bank skoonmaak (ek was te laat met die ‘wetwipes’ 😬), neusdruppels ingooi (kleinboet háát dit), Panadostroop toedien, troos, eierbroodjies smeer (en Oudste soebat om asseblief ietsie te eet), saam met Oudste op die bed “bietjie gaan rus” (volgens hom gaan hy beslis nie slaap nie!), wéér troos, dan vir boetiebaba aan die slaap sus, net om te hoor hoe Oudste histeries in sy kamer huil… Gelukkig is my Regterhand ook in die mengelmoes van gebeure en ek stel haar gou aan om by kleinboet oor te vat (ek gaan regtig nog êrens ‘n huldeblyk aan haar skryf, want sjoe, sy’s een van die sterkste vroue wat ek ken …).

Bo in die kamer sit my kabouter kiertsregop, tamatierooi in die gesig, trane en snot wat loop (sorrie julle) en ‘n pynlike uitdrukking op sy gesiggie. Ek kan sien hy’s al weer koorsig… Jip, jy het reg afgelei… My 2 “mini-me’s” is siek. Al weer. Oudste kabouter is natuurlik laasweek vir die eerste keer in 6 weke terug skooltjie toe. Ons moes hom noodgedwonge vir ‘n tydjie uithaal oor hy al die skooltjie-kieme saam hom huistoe dra (dis hoe kleinboet in die hospitaal met meningitis opgeëindig het). Hy het dié keer nie eers ‘n week gehou tot die neusie begin loop het nie. En toe is dit boetie se beurt. En nou is dokter-mamma ook ‘n pasiënt. Probleem is net, vir mamma is daar nie rus nie. Huisdinge moet aangaan…en die kinders soek hul mamma. 100% van mamma.

Goeie d…donkie, besef ek nou: Ek’t al wéér te min water vandag gedrink…en daar lê my verlate 2 kopseerpille nog net so op die toonbank! Deur al die deurmekaarspul het ek (gelukkig) van my knaende min-slaap hoofpyn vergeet…

Vanaand is ek dankbaar vir ‘n stil huis. Ek luister…en hoor net Rupert, ons swart mini Schnauzer, se gesnork. Vanaand beteken die stilte: ons het dit “gemaak”, ‘we survived another day’, die kinders is rustig – pynvry en koorsvry. En hopelik is môre weer ‘n beter en helderder dag. Met méér grappies-en-lag en minder snot-en trane…

“Who’s with me”, mammas? 🙋🏼‍♀️

Vrede (amen!) & lekker slaap!

GASSKRYWER

Ek het op hierdie stukkie afgekom en dit is baie gepas vir vandag se koue, triestige weer in George.

Hierdie wêreld is dikwels koud, donker, of sommer net boos. Die lewe is nie altyd nét maanskyn en rose nie…en vandag skets ons die donkerte en seerkry met woorde…

Maar voor ons té diep in die spelonk van negatiwiteit verdwaal 😊, word ons herinner dat daar altyd êrens HOOP is.

Onthou, daar is met elke nuwe dag ‘n sonsopkoms. En elke donker wolk het ‘n silwer randjie… Soms is ons visie net ‘n bietjie te  ‘clouded’ om dit raak te sien.

|| J A M M E R ||
Deur Magda Burger

Du Toit se oordrom het gebars.
My hart wens om die pyn weg te neem.
“Mamma is jammer,” probeer ek troos.
“Hoekom is Mamma jammer?” vra hy.
“Ek is jammer dat jy so seer het,” huil ek saam.

Die hartseer knaag die maand aan my hart. Sommer net pure seer. Want die wêreld is ‘n seerplek. Sonder genade. Sonder pleisters.

Ek besef daar is mooi in die lewe, maar vir ‘n rukkie wil ek net ruk van snikke en my neus behoorlik uitblaas en nie na die misvormde prentjies van mooigoed tussen trane deur kyk nie.
Want partykeer bring die mooigoed die trane. Die liefdespand wat jy met trots gedra het. Die eens agtermekaar-mens wat alles kon doen. Die drome wat lugkastele gebly het. Die paradys waar daar nou net donker storms heers. Die oogwinke – wat dalk al jare kom – waarin alles verander.

Ek is jammer.

Miskien sal jy toelaat dat ek saam met jou in die reën sit.
Langs jou.
Ek kan nie die reën laat ophou nie… maar ek het dalk ‘n sambreel.