OUMAS (& OUPAS)

Dit is ‘n ongelooflike voorreg as oupa en ouma naby genoeg bly om gereeld oor en weer te kan kuier. Kleinkinders hou die grootouers jonk😉 en oupas en oumas kan soveel wyshede vir ons kinders leer en onvoorwaardelike bederf-liefde in hul hartjies deponeer.

‘n Mamma met ‘n pasgebore baba het iemand nodig wat vir babalyfie kan vashou, dat sy net vinnig iets kan eet of stort of aantrek of badkamer toe gaan – dat sy net weer mens kan voel. Dis wonderlik as Ouma of selfs Oupa naby is om hand by te sit.

‘n Moëe mamma is ook bitter baie dankbaar as Ouma die kinders bietjie kan besig hou – veral die besige kleuters met hulle oulike sê-goedjies en houdingtjies. Díé mini-mensies kan wel soms baie veeleisend raak as daar ‘n klein babalyfie ook in die huis is… (sien gerus “Die Baba-siklus” storie)

In ons geval, bederf Ouma en Oupa ons dikwels met saam-eet middagetes of ons ry uit na ‘n lekker restaurant met ‘n mooi uitsig. Dis presies wat hierdie ‘cabin-fever’-mamma nodig het om nie heeltyd net soos ‘n ‘jersey’ koei te voel nie!

Ek dink dis belangrik om aan die Oupas en Oumas spesifiek te kommunikeer oor wat jy van hulle verwag en hoe hulle jou kan help en bystaan. Elkeen se situasie lyk verskillend…

Mammas, dit is ook belangrik om grense te stel. Jy en jou huweliksmaat besluit saam oor hoe julle jul kinders wil grootmaak, die waardes wat jul hul gaan leer en hoe julle gaan dissiplineer ens. Grootouers moet die grense wat julle stel, respekteer. Al stem hul nie noodwendig daarmee saam of is dit nie dieselfde manier waarop hulle jóú groot gemaak het nie. (Hierdie kan soms ‘n taai toffie wees!)

Oumas (en Oupas), dit sal wonderlik wees as julle betrokke en beskikbaar kan wees…sonder om te veel voor te skryf. Om raad te gee wanneer daar vir jou gevra word… In my geval, het ek begin voel my ma laat my nie toe om die mamma te wees nie. Ek het gevoel my manier van dinge doen is nie goed genoeg nie. Want dis nie háár manier nie. Die oorsaak van hierdie “inadequate” gevoelens is ‘n kombinasie van postpartum hormone, slaap-tekort en leuens van die vyand. Oumas, wees maar bietjie meer sensitief daarvoor en luister na jou dogter/skoondogter se hart. As sy kla of huil, wees net daar. Sy’s op ‘n baie kwesbare en uitdagende plek in haar lewe, en gewoonlik wil sy graag net ‘n klankbord hê…en nie regtig iemand wat kom met lyste van “oplossings” nie.

Oumas, dit beteken nie jy het nóóit ‘n geldige opinie of moet op eiers loop nie! (Ek’s seker jy weet waarvan jy praat! Jy het immers jou kinders mooi groot gekry 😉) Dis maar net ‘n fyn balans van die regte hoeveelheid ondersteuning, sonder om “judgemental” oor te kom (al bedoel jy goed). Laat haar toe om self te probeer, leer en foute te maak – solank dit nie dodelik is of ewigheidskade aanrig nie!

Oumas, val maar eerder in by die ma. Vra byvoorbeeld eers wat die kinders mag eet of nie mag eet nie. Dieselfde reëls wat by die huis geld, moet by Ouma se huis ook toegepas word. Dubbelstandaarde is frustrerend en verwarrend. Konsekwentheid is die sleutel.

(Nuwe) mammas, ek wil afsluit deur te sê dat ons ook ekstra bietjie genade met die oumas moet hê. Ons moet onthou hulle was eens op ‘n tyd ook die mamma – en dít is wat hulle ken en onthou…Nóú moet hul ‘n splinternuwe rol aanleer en dít bring dalk onsekerhede en misverstande…
“Have a little grace. It goes a long way.”

SONDAG-INSPIRASIE

GASSKRYWER

‘n Vrou se handsak
Deur Magda Burger

Iets waaroor haar man definitief nie praat nie. En in ons huis lyk my man of die donderweer hom gaan tref as hy iets in myne moet soek.
So elke kort-kort moet ek maar inklim en regpak. My Pandora’s box hou nogal interessante dinge in, veral as die seuns dit ook gebruik.

Ek kry nou die dag ‘n klip in my handsak. Net ‘n gewone klip. Niks spesiaals nie. Inteendeel ek het deksels swaar aan die ding gedra! Vies haal ek dit uit.

Toe besef ek hoe baie klippe dra ons in ons harte:
Al die onnodige gemors. Is nie lus om daai ou te vergewe nie, en dan bly ek maar vies elke keer wanneer ek aan daai een dink. Die gekrap as iemand die hele tyd vir my vra om iets te doen. Vriendelik te wees en ‘n nors antwoord terug te kry, en dan maar dae lank daaroor ontsteld te wees. Soveel irritasies wat elke dag se mooi uitsuig.

Haal die klippe uit. Maak jou hart ligter. Dan kan jy in elk geval meer liefde inpak wat jy weer in oorvloed kan uitdeel.

TRIPPE TRAPPE TONE

Ek’s seker ek hét gekyk waar die eerste trappie is. Ek’s amper 100% seker…

Hierdie mamma het heel Vrydag soos ‘n absolute vrot ma gevoel! Ek het met baba en al by ons boonste verdieping se trap afgeval. Darem net tot in die helfte van die trap…maar nogsteeds… 😬 Eina.

Met my baadjie onder die een arm, dummy & Telement in die hand, selfoon in die gatsak en baba op die heup, het ek aan die bopunt van die trap gestaan en vlugtig afgekyk. Ek was haastig. Ek misgis toe die tweede trap vir die eerste een, en daar steier ek vooroor, met enkels wat swik en voete wat skraap, soos ek probeer om vastrapplek te kry! Toe ek die teëls sien nader kom, en ons 2 aanhou gly, besef ek ons ontmoeting met die grond is onvermydelik. Ek probeer vir boetiebaba nader trek, maar met die momentum (en sy 10kg lyfie) “ka-plaks” ons boude-eerste op die harde teëltrap. Ek kreun, en boetie snak na sy asem – toe begin hy hartverskeurend huil. Gelukkig hou ek hom steeds vas (hy het genadiglik nie uit my arms geglip nie!) en alhoewel hy opsigself ‘okay’ lyk, kan ek hoor hy’s in pyn. Ek gil histeries vir my man om te kom help, en soos hy vir baba uit my arms tel, voel ek my eie seer: my elmboog, my linkerboud, my enkel (díé het alreeds ‘n golfbal-swelsel aan die vorm).

Ons uitstappie na Ongevalle en X-strale bevestig: geen gebreekte/gedislokeerde bene. Dankie, Vader. My enkel is net sleg verstuit. Maar boetiebaba het ‘n diep sny onder sy 3de toontjie… Só wag ons toe vir die chirurg wat hom heelmoontlik teater toe sal moet neem vir narkose en steke…

Die chirurg kom sien ons toe ‘n paar uur later in die kindersaal (genade, maar dis sleg om ‘n kind – wat nog te sê van ‘n borsvoedende baba – nil per mond te hou! Ek’t as dokter-mamma beslis nuwe perspektief en empatie bygekry). Steke is toe nie nodig nie! Ons kan sy voetjie konserwatief met verbande behandel – halleluja!

Oudste, met sy klein hartjie en kinderlike geloof, het by die huis al vir mamma en boetie se voete gebid. Pappa noem na die hele gedoente hoe hy tóé al gesien het hoe die voetjie se swelling sak…

Boetiebaba se naam-betekenisse het in hierdie (kort) 7 maande vir my werklik “lewendig” geword: Kampioen en God is genadig. Deur al die “trials & tribulations”…deur septiese skok en breinvliesontsteking en brongiolitis…en sy ma wat heel simpel was om nie aan die trapreëling vas te hou nie… Hy is ‘n dapper klein mensie & God is altyd genadig.

TANTRUMS & TAAI TOFFIES

“Nee, Mamma moet. Mamma moet by my lê! Nie Pappa nie. Mamma!!!”

Só kerm-huil-skreeu my groot-oog amper-3-jarige kabouter net voor slaaptyd oor wie hý besluit het vanaand by hom moet lê tot hy na Droomland weggevoer word…

Dis al weer een van dáái dae. Daai hóógs uitdagende dae: van verseg-om-my-middag-slapie-by-die-skool-te-vat-en-nou-is-ek-totaal-verby-moeg-en-aaaaaalles-is-‘n-stryd!

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Ek is ontsettend lief vir my 2 seuntjies. Maar party dae voel dit asof my geduld en kreatiewe-redenasie-vermoeëns tot die uiterste beproef word! Veral met Oudste (Boetiebaba praat (gelukkig?) nog nie terug nie, maar gil net in sy skril stemmetjie as hy gehóór wil word).

Terug by vroeër vandag:
Die groen plastiek-eetlepel móés eintlik blou gewees het, Rupert het sy hand gelek😱, en hý wou die asmapompie se oranje doppie “SELF” (julle ken mos daai woord😉🙈) afgehaal het. Emosies het behoorlik gesneeubal in ‘n sneeu(senu-ineen)storting…

Vanaand is almal moeg. Hierdie mamma het nog soveel om te doen voor dit mý beurt is om in te kruip. En hier sit Oudste Kabouter steeds kiertsregop en verseg om te slaap. “Want Mamma moet by my lê!” (Alhoewel Pappa nog altyd die laaste paar maande goed genoeg was!)…

Ek bid vir wysheid. Ek bid vir onderskeiding: Dat ek sal weet wat om te doen, wat om te sê.
Wanneer is dit als net die moegheid wat praat en wanneer is dit pure ongehoorsaamheid (soos wanneer hy aspris kliphard geluide maak as ek met manlief probeer praat)?

Wanneer moet ek grense stel en dissiplineer en wanneer het hy net liefde en aanvaarding nodig – net vir my nodig om by hom te wéés?

Vanaand het ek die “by-hom-te-wees” opsie gekies, my arms om sy snikkende lyfie gevou en hom net vasgehou. ‘n Paar sout-trane-soentjies op die wang en twee snot-tissues later, krul sy mondhoekies weer in ‘n half-glimlag op en soek sy groot oë myne. En ek weet in my hart dit was die regte besluit. Ons siele het ontmoet en ons verhouding het verdiep.

MY REGTERHAND

Ek wil graag Vrouemaand met ‘n storie oor ‘n merkwaardige vrou, afsluit. Sy is my kinders se oppasser, ons huishoudster en inspireer my daagliks. Makhulu. Ouma.

Deur die venster sien ek hoe die klein, fyn vroutjie nader stap. Ons interkom-klokkie lui en ek weet dis sý. Sy’s perfek op tyd vir werk. Sy moes vanoggend ver stap – vanaf die taxi ranks ‘n bus vang, en dan weer ‘n ent se stap tot by ons huis aan die bopunt van die woonbuurt. Ek sluit solank die voordeur oop en Rupert spring opgewonde onder my voete rond. Hy’s bly dat sy hier is – sy’s nog van die min mense wat behoorlik vir hom aandag gee (ongelukkig met die 2 kleintjies in die huis het ons interaksie met Rupert afgewater na “af Rupie” en “nee, Rupie”!)

Soos sy nader kom, kan mens sien sy stap effe mank. Net effens. As jy mooi kyk, is die letsel steeds daar…maar haar postuur is regop. Sý is ‘n trotse vrou.

Ek vertrou niemand anders met my kinders nie. Sy het 4 van haar eie stoksielalleen grootgemaak en dan was sy ‘n tweede mamma vir Oudste toe ek moes teruggaan werk toe.

My Regterhand. Ek ken min vroue soos sy. Die diep, donker valleie wat sy al moes trotseer, wens ek nie eers my vyand toe nie. En steeds bly sy staande. Ten spyte van al die uitdagings, die trauma, die hartseer en die pyn.

In 2015 is haar een nier verwyder. Daar was ‘n verdagte sistiese letsel op die ‘MRI scan’ en so moes die nier toe uit. Dit was ‘n hengse operasie en die herstel was lank… Intussen het sy ook met ‘n simpel senuwee in haar onderbeen gesukkel. Dié het naalde en spelde en soms ‘n dooie gevoel veroorsaak.

In 2016 verloor sy haar permanente werk by ander mense wat verhuis het – dít was ons gesin se redding. Haar aanvanklike verlies en hartseer was ons wonderwerk. Ek moes terug werk toe, en wou bittergraag my seuntjie in bekende hande los…

2018 was ‘n ‘rollercoaster’ van siekte, skok, hartseer, letterlike pyn en wonderbaarlike oorwinnings. Sy is postmenopausaal en het ewe skielik swaar begin vloei…vir 2 maande lank. Sy is kort daarna met Endometriële kanker (binnewand van die baarmoeder) gediagnoseer en moes Tygerberg toe vir ‘n totale histerektomie…dank Vader, dit het nog nie versprei nie, en sy is toe 100% genees!

Tydens haar verjaarsdag in November het sy gesien en beleef wat geen ma ooit moet beleef nie: haar seun, haar jongste kind, is deur ‘n bende aangeval by die nabye kafee toe hy gaan lugtyd koop het. Hy is wreedaardig met ‘n panga verniel en vir die dood agtergelaat. Deur God se genade het hy merkwaardig herstel.

Dit bring ons by hierdie jaar. Die beroerte in Maart-maand het nie haar lewe geneem nie, maar dit het wel ‘n litteken gelos.
Die 2de aanval op haar seun (dié keer met ‘n koeël in die been) het seker die grootste wond agtergelaat…

My Regterhand. Sy bly steeds staande. Sy bly steeds trots en terselfdertyd nederig… en vol liefde. Al voel sy self swak, is sy sterk. In Hom. En vir ons.






WAY MAKER, MIRACLE WORKER

Vandag was ‘n wonderwerk-dag.

Jy ken daai dae wat jy voel jy wil eerder weghardloop en in die bed gaan klim met ‘n warm koppie tee en beskuit (óf koffie óf ‘hot chocolate’) en die duvet hoog optrek – want alles wat vandag moet gebeur, is net té veel!

Ek het onlangs weer voltyds begin werk (my 4 maande kraamverlof voel al soos iets in die verre verlede!) en my kollega (en goeie vriendin) is tans met ‘adoption leave’. So…daar word maar redelik soos ‘n af-kop-hoender rondgehardloop (ek drafstap regtig tussen die sale om tyd te spaar!) en elke nou en dan voel ek kompleet soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n smartie-boksie. Okay, sommige dae is beter as ander. Maar jy kry die idee, nê?

Oppad werk toe sing ek ‘n liedjie van Leeland…ons het hom die naweek by selgroep geluister…”Way maker, Miracle worker, Promise keeper, Light in the darkness…that is who You are
…” en ek gesels sommer met die Here…okay, dalk meer net soos “Here help my asseblief, ek het geen idee hoe ek alles vandag gedoen gaan kry nie! Ek stres, ek’s moeg, ek kan nie… Want sien, vandag moet ek saalrondtes doen (so 40 pasiënte), die studie-pasiënte kom, dis Morbiditeit & Mortaliteit vergadering, ek wil nog die beloofde babakleertjies by George Child Welfare gaan aflaai én êrens moet daar nog uitgemelk word ook!

Ek het nul “geestelik” gevoel (watookal dit beteken, nê) en na my eenvoudige vra-vir-hulp van Hom vroeër die oggend het daar niks “supernatural” gebeur nie. Of so het dit (aanvanklik) gelyk.

Ek het admin begin doen, e-posse gelees, oproepe gemaak, voorskrifte geskryf, pasiënte ontslaan. 10uur kom en gaan en ek wik en weeg of ek eers moet uitmelk of tog maar gou saal toe moet gaan. Ek kies die saal…en daar staan die vrou van George Child Welfare by ons hospitaal se apteek! Sy was (toevallig?) die oggend daar vir ‘n vergadering. As ek besluit het om eers uit te melk, sou ek haar gemis het! Ek kon toe sommer die babakleertjies vir haar gee. Een ding maklik afgehandel sonder rondryery! Halleluja.

Die volgende ding was die studie-pasiënte. Die enigste man wat sou kom, het gekanselleer – hy kom eers môre. Halleluja.

En toe is dit die M&M vergadering. My baas bied aan om die vergadering te lei. Hy het reeds ‘n paar onderwerpe wat hy wil bespreek. So, ek hoef nie voor te berei of Powerpoints te maak nie. Halleluja.

Die kersie op die koek (want ons dien ‘n Pappa-God met ‘n Vader-hart wat sy kinders soms ‘n bietjie wíl bederf), is dat ‘n onlangse kennis (wonderlike mens, mamma en besigheidvrou – meer oor haar later) vir my met iets spesiaals wil “bless”! (Dankie! Jy weet wie jy is😘)

Ek staan verstom. Een na die ander ding het in plek geval en uitgewerk. Hierdie “horrible”, amper-onmoontlike dag met ‘n lang lys van “to do’s” was toe op die ou end glad nie so sleg nie…

Gaan luister ‘Way Maker’:
https://youtu.be/iJCV_2H9xD0
Ek’s seker dit sal jou “bless”. Dit het vir my baie beteken.

Lekker slaap, mede-mammas,

MINDER||WAARDIG

20 voor 7 op ‘n doodgewone Dinsdagaand. Ek borsvoed vir Boetie-lyfie aan die slaap…Ek weet ek moet eerder my Bybel ‘app’ oopmaak…maar hier vind ek my weer breindood deur Instagram se ‘news feed’ blaai….en daar’s dit weer. Dáái effense gevoel van ongelukkigheid. Is dit ontevrededenheid? Ek voel krapperig. Ek sit en vergelyk my híér en nóú met die helder prentjie-perfekte beelde wat my deur hierdie een-dimensionele selfoonskermpie aangluur.

En ek voel skielik…wat is die woord waarvoor ek soek…’inadequate’. Nie goed genoeg nie? Minder…waardig.
Maak dít wat ek doen enigsins ‘n verskil?

Minderwaardigheid verlam jou. Jy voel gede-aktiveer. Jy voel skielik…niks. Jy hou op glo. Jy hou op groei. Jy hou op blom. “You become inward focused instead of outward focused.” En dis presies wat die vyand wil hê: as jy deur hierdie leuens verlam word, kan jy nie effektief wees en jou volle potensiaal bereik nie – die lewensdoel waarvoor jý geroep is.

Mede-mamma. Hierdie skryf ek vanaand vir myself. Maar dalk moet jy dit ook lees…
Jy het ‘n belangrike rol te speel. En die impak is ver groter as wat jy in jou leeftyd sal verstaan.

Wat is jou sfeer van invloed?
Kyk om jou. Jou man? Jou kinders? Jou ouers? Jou vriendinne, werkskollegas, pasiënte, kliënte… Die onnies by jou kinders se skool, die vroutjie agter die ‘till’ of die petroljoggie, koerantverkoper, karwag… Jy kry die idee. Elke liewe dag raak jy iemand aan. Al is dit net deur te glimlag.

》》》》Don’t ever stop believing, dreaming, pursuing, achieving… Make an impact. Make your mark.《《《《

Hoe mooi is hierdie?
“Men and women who have lived wisely and well will shine brilliantly, like the cloudless, star-strewn night skies. And those who put others on the right path to life will glow like stars forever.”
Daniel 12:3 MSG

JY IS WAARDIG. SKYN ☆

Vrede ♡

DIE HAMSTERWIEL

Dit voel die laaste tyd of ek op ‘n hamsterwielietjie vasgevang is en iemand het die hokkie se deurtjie styf toe gemaak. Ek beur net al aan vorentoe…ek móét vorentoe. Maar ek beweeg dan net mooi niks nie!😳 Vandag was beslis weer een van dáái dae – een vir die (mammadag)boeke…

Dit was ‘n warboel van snotneusies blaas, vuil vingertjies met ‘wetwipes’ afvee (na Oudste al weer die ou kole in die braai ontdek het – ek moet tóg vir manlief herinner om die braai skoon te maak), die swartkolle op die bank skoonmaak (ek was te laat met die ‘wetwipes’ 😬), neusdruppels ingooi (kleinboet háát dit), Panadostroop toedien, troos, eierbroodjies smeer (en Oudste soebat om asseblief ietsie te eet), saam met Oudste op die bed “bietjie gaan rus” (volgens hom gaan hy beslis nie slaap nie!), wéér troos, dan vir boetiebaba aan die slaap sus, net om te hoor hoe Oudste histeries in sy kamer huil… Gelukkig is my Regterhand ook in die mengelmoes van gebeure en ek stel haar gou aan om by kleinboet oor te vat (ek gaan regtig nog êrens ‘n huldeblyk aan haar skryf, want sjoe, sy’s een van die sterkste vroue wat ek ken …).

Bo in die kamer sit my kabouter kiertsregop, tamatierooi in die gesig, trane en snot wat loop (sorrie julle) en ‘n pynlike uitdrukking op sy gesiggie. Ek kan sien hy’s al weer koorsig… Jip, jy het reg afgelei… My 2 “mini-me’s” is siek. Al weer. Oudste kabouter is natuurlik laasweek vir die eerste keer in 6 weke terug skooltjie toe. Ons moes hom noodgedwonge vir ‘n tydjie uithaal oor hy al die skooltjie-kieme saam hom huistoe dra (dis hoe kleinboet in die hospitaal met meningitis opgeëindig het). Hy het dié keer nie eers ‘n week gehou tot die neusie begin loop het nie. En toe is dit boetie se beurt. En nou is dokter-mamma ook ‘n pasiënt. Probleem is net, vir mamma is daar nie rus nie. Huisdinge moet aangaan…en die kinders soek hul mamma. 100% van mamma.

Goeie d…donkie, besef ek nou: Ek’t al wéér te min water vandag gedrink…en daar lê my verlate 2 kopseerpille nog net so op die toonbank! Deur al die deurmekaarspul het ek (gelukkig) van my knaende min-slaap hoofpyn vergeet…

Vanaand is ek dankbaar vir ‘n stil huis. Ek luister…en hoor net Rupert, ons swart mini Schnauzer, se gesnork. Vanaand beteken die stilte: ons het dit “gemaak”, ‘we survived another day’, die kinders is rustig – pynvry en koorsvry. En hopelik is môre weer ‘n beter en helderder dag. Met méér grappies-en-lag en minder snot-en trane…

“Who’s with me”, mammas? 🙋🏼‍♀️

Vrede (amen!) & lekker slaap!