Options Sorgsentrum is ‘n bediening van Jeug vir Christus (YFC – Youth for Christ) en is in 1997 deur Laurie Edwall gestig is. Options fokus op jeug en hul families wat deur ‘n krisis-swangerskap en/of HIV geaffekteer word. Hul dienste sluit in: toets en berading, sowel as praktiese nood-bystand en ondersteuning.
In Suid Afrika is daar baie soortgelyke sentrums wat onder Africa Cares for Life val. Jy kan jou naaste sentrum soek by http://www.africaresforlife.org.za

In die beradingsproses help Options die vrou in nood om deur haar emosies (en die omstandighede wat druk veroorsaak) te gesels, en deel ook inligting oor die opsies rakende onbeplande swangerskap wat die persoon dan help om ‘n goed-ingeligte besluit te kan neem.
‘n Onbeplande swangerskap kan die hele gesin in krisis dompel. Dit kan ‘n tiener of jong volwassene met n goed-uitgewerkte plan vir die toekoms wees of selfs ‘n getroude paar wat nie nóg ‘n babalyfie beplan het nie. Soms is die een baba nog in doeke en dan kom die mamma agter sy is alweer swanger! Die skok, angs, vrees en skuldgevoelens veroorsaak emosionele worsteling wat mens kan oorweldig.
Options is daar vir:
- die tiener, wat nou ‘n mamma word…. maar ook vir haar ouers wat deur hulle eie vrae en emosies worstel.
- die nuwe pappa wat ook drome en ideale het en nie weet wat om met die nuus te maak nie.
- die werkende, getroude vrou wie se man amper heeljaar oorsee werk en net nie kans sien vir nog ‘n lyfie nie.
- die mamma wat klaar 3 kinders het en met ‘n skok agterkom sy is met ‘n tweeling swanger.
- vir die vrou wat eintlik soveel keer gehoor het sy kan nie swanger word nie, en uit die bloute ‘n wonderwerk verwag.
- vir die mamma wat swanger is, en sy of haar man word skielik by die werk afgedank en daarom voel dit of die baba nie eintlik nou welkom is nie.
- Options help die mamma wat voel of sy net nie kan “bond” met die baba nie.
- Hulle luister na die vrou wat verkrag is, of as kind gemolesteer was.
- Hul voel saam met jou wanneer jy aan ‘n baba stilgeboorte gee of ‘n miskraam gehad het.
- Options is daar om te luister na die mamma wat vir weke of maande nie kan slaap nie, en is daar vir die mamma wat voel sy kom net nie reg met haar nuwe baba-lyfie nie, of as jy vermoed jy het Postpartum Depressie. Baie mammas voel ook skuldig dat hulle nie die “newborn” fase geniet soos wat so dikwels op Facebook of Pinterest voorgegee word nie.
- Options help mammas wat babas wil plaas vir aanneming
- Hul help ook met die proses wanneer ‘n paartjie besluit om ‘n baba aan te neem.
- Hul bied emosionele ondersteuning vir mammas wie se babas vir maande in NICU is.
- Options luister na jou en ondersteun jou indien jy wel ‘n aborsie gehad het en daarna met die emosies sukkel.
Ander dienste:
- ‘Kangaroo care’ – waar hul na ‘n baba kyk wat aanneembaar is tot die wagperiode verby is
- Gratis voorgeboorte klasse
- Bybelstudie groepies met mammas wat vir babas wag om uit NICU ontslaan te word
- Tienermamma groepe
- Enkelouer ondersteuningsgroepe
- HIV ondersteuningsgroepe
- Baba pakkies
- Skool uitreike en werkswinkels met jeug
Indien iemand sou belangstel om vrywillig te help, bied Options ook kursusse aan. Die 1ste kursus gee jou ‘n oorsig oor die bediening en die 2de kursus is ‘n basiese beradingskursus.
Finansiële donasies, sowel as enige ander donasies van klere, kos of basiese benodighede, is welkom.
Kontak gerus Options Sorgsentrum vir meer inligting.
YFC – Options Care Centre
54 Albertstraat
George
044 874 7414
http://www.optionsgeorge.com
Baie dankie aan Cora Rautenbach vir die inligting. Sy is die Krisis Swangerskap Koördineerder by Options.

“Ek koördineer die beradings, maar kyk ook na al die beraders wat die berading doen. Alle gevalle wat verwys moet word, volg ek op. Ek help ook met die plasings vir aanneming.
Ek het as ‘n vrywilliger in 2015 begin, maar is in 2016 permanent aangestel.
Die Here het my geroep om in voltydse bediening te wees, om Sy hart vir mense prakties te demonstreer en om mense onvoorwaardelik lief te hê. Maar ook om elke vrou hoop te gee vir die dag van môre, al lyk môre hoe onmoontlik!”
“Ons kan nou van een saak seker wees: God gebruik elke ding wat in ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit. Dit geld natuurlik vir almal wat Hy volgens sy ewige plan gekies het om in Hom te glo. God het elkeen wat Hy vir Hom uitgesoek het se lewe nuutgemaak. Nou kan hulle die beeld van sy Seun weerkaats. Wanneer hulle in Christus se voetspore stap en soos Hy leef, wys dit dat hulle aan God se nuwe familie behoort. En Christus is natuurlik die heel belangrikste Persoon in hierdie nuwe familie.”
Romeine 8:28-29 DB
watter wonderlike werk doen hulle nie. “As jy dit doen aan een van die geringste onder julle, doen jy dit aan My”.
LikeLike