OUMA JOAN

my Ouma Joan was ‘n deftige vrou,
petite gebou, met kleine handjies
het sy haar mooiste mode-uitrustings
en duursame koppies en eetgerei
vir belangriker dae uitgehou…

haar geruite baadjies hang nou in mý klerekas
haar sagte hemde en knie-lengte rompe
word nou deur my met sorg aangepas
en só voel sy ‘n bietjie nader,
soos haar klere my ‘n drukkie kom gee
en ek skaamteloos my trane op my wange wegvee

my Ouma was nederig en vir komplimente het sy altyd net geglimlag
sy was pragtig, met haar oorkrabbe en ringe en salon-gedoende hare
tog moes die kollig nie op háár rus
en ek wonder soms: het sy nie dalk nóg ‘n roeping gemis?

want my Ouma Joan was intelligent en skerp,
en sy het ‘n belangstelling in biologie en menslike wetenskappe in mý opgemerk
(‘n belangstelling wat ons twee eintlik gedeel het)
en ek onthou die koerantuitknipsels
van mediese uitvindsels of baanbreker-operasies, wat sy sorgvuldig vir my sou hou…
ek onthou ook die talle digbundels –
die Woordgilde-boeke met háár geliefde woorde op papier vasgevang
en in die huis, los stukkies met skribbels
wanneer inspirasie soos ‘n miswolk
rondom
haar
kom
hang

my Ouma was liefde, aanvaarding en grappies
met margarien, marmite en sandwich spread op soutkoekies
met Oupa wat “hiert-jy” en “skop-skop” rugby kyk, soos hy opgewonde die spelers aanmoedig,
en Ouma net glimlaggend kop-skud en haar wenkbroue lig

ek onthou Reygerlaan 15, en Ouma en Oupa, my stabiliteit
en die grooooot agterplaas, my saligheid
en die tortelduif wat luidkeels in die oggend sou roep:
soontoe, sit-‘n-bietjie-soontoe…
en niggies en nefies wat Kersfees-liedjies sing
en Oupa wat as kersvader ons almal flous en ‘n sak vol geskenke bring

ek onthou my Ouma Joan se huis aan die onderpunt van Lochnerstraat,
net ‘n klipgooi van my grootwordhuis
en stap-afstand van die see se gedruis
ek onthou Sondag Spur-uitstappies en sitplek voor die venster, die Salad Valley
en Ouma se gunsteling rosyntjiebrood,
toegevou in ‘n servet

ek mis my Ouma Joan se beige wolbaadjie en ons stappies langs die see
as sy my ‘stick’ vir ‘n draairoomys
en ek my hart kon deel,
kon kla oor skoolwerk wat my verveel!
en ek wens ek kon daardie tyd terugsteel

maar Ouma, ek weet jou fyn handjie is nou veilig in Oupa Dup se hand
ek weet jy is vry, ek weet jy’s gelukkig
ek sien uit om jou weer te ontmoet aan die anderkant.

Alyssa Loftus

2 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s