LEES & SPEEL JOU KIND SLIM

Drs. Nické Theron & Alyssa Loftus

Hoekom is dit belangrik om vir my kinders stories te lees?

“The Million Word Gap” studie was gedoen om die verskil in woordeskat te vergelyk tussen kinders wat GEEN stories hoor nie teenoor kinders wat 1 boek per dag hoor (290 000 woorde ekstra), en dan ook teenoor kinders wat 5 boeke op ‘n dag hoor (1.4 miljoen woorde ekstra!).
Boekies-lees saam met jou kinders, speel ‘n groot rol in die ontwikkeling van woordeskat en lees-vaardighede.

Boeke bespreek ook onderwerpe wat jy nie altyd in jou allerdaagse kommunikasie met jou kinders mee te doen kry nie (byvoorbeeld ‘n boek oor diere in die wildtuin), en so brei dit jou kind se woordeskat uit. So deur ‘n boek vir jou kind voor te lees, en die gebeure of prentjies te bespreek, hoor jou kind nóg meer woorde. Dit maak dit weer makliker om hierdie woorde te herken as hulle begin lees. En lees vorm die basis van alle verdere leer en sukses op skool.
(“The Million Word Gap” studie deur Jessica Logan by die Ohio State University)

Taal, kommunikasie, geletterdheid hou almal nouliks verband met mekaar.
Dit ontwikkel in dieselfde volgorde in alle kinders, maar nie teen dieselfde tempo of op dieselfde ouderdom nie.

Voordat ‘n kind kan leer lees, is dit nodig dat al die verskeie komponente wat saambou aan die lees-vaardigheid eers goed vasgemessel is. Dit begin al so vroeg as intra-utero waar ‘n baba gewoond raak aan die klanke (die ritme, die verbuigings ens) van hul huistaal. Tussen 0 tot 1 jaar leer ‘n baba non-verbale kommunikasie, en dan tussen 1 tot 2 jaar begin hulle bou aan ‘n woordeskat. Later leer hulle van die sintaks (sinne bou) en daarna leer hulle om hierdie woorde en sinne in die regte konteks te gebruik. Op hierdie stadium is alles nog gefokus op geselsies. As dit goed gevestig is, het jou kind ‘n baie groter kans om suksesvol te leer lees.

Daar is ‘n hele paar faktore wat ‘n rol speel in geletterdheid. Kinders leer baie van die boublokke van geletterdheid nog voordat hulle skool toe gaan, en die volgende kan bydra tot sukses in hul lees-vermoë:

  • Positiewe lees-ervaringe in hul huis-omgewing
  • Meer gereelde boek-voorlesings
  • Goeie kwaliteit van die ouer-kind interaksies tydens voorlesings.
  • Tipe boeke en voorlees-styl hang af van die kind se ontwikkeling. Jonger kinders baat meer by ‘n “vertel-styl” waar die prentjie of storie beskryf word en oor gesels word. Ouer of meer gevorderde kinders baat weer meer by ‘n ononderbroke styl waar die vrae en verduidelikings voor of na die lees van die storie gebeur.
  • Elektroniese boeke mag dalk lyk asof dit die kind se aandag makliker hou, maar dit veroorsaak dat die kind meer alleen wil kyk/blaai/lees en dan verloor jy die interaksie met die ouer.
  • Demografie speel ook ‘n rol. Laer sosio-ekonomiese gesinne besit minder boeke en die ouers lees self ook minder.

“It is not just reading to children that makes the difference, it is enjoying the books with them and reflecting on their form and content.”

Marilyn Jager Adams

Vertraging in spraak- en taal ontwikkeling:

Wat is die❗rooi vlaggies❗waarvoor ek moet uitkyk en wanneer moet professionele hulp dalk ingeroep word?

  • Geen babbel geluide teen 9 maande
  • Geen woordjies teen 15 maande
  • Gebruik nog nie 2 woorde saam teen 2 jaar
  • Spraak word nie deur ouers verstaan teen 2 jaar
  • Spraak word nie deur vreemdelinge verstaan op 3 jaar
  • Stadige uitbreiding van woordeskat
  • Kind is gefrustreerd of vermy situasies waar hy/sy moet praat
  • Kind word deur maatjies geterg omdat hy/sy “snaaks praat”
  • Kind gebruik taal nie toepaslik om te kommunikeer nie of taal maak nie sin nie
  • Kind kan nie instruksies volg of verstaan nie
  • Verlies van mylpale wat voorheen bereik is
  • Swak geheue en onvermoë om kleure, nommers, vorms of die alfabet te leer teen 5 tot 6 jaar

Voorstelle vir ouers om jou kind te help met taalontwikkeling:

  • Praat stadig en duidelik
  • Benoem voorwerpe in jou omgewing
  • Herhaling, herhaling, herhaling
  • Vra oop vrae
  • Brei uit op jou kind se geselsies
  • Korrigeer deur te herfraseer, herhaal of herbenoem, eerder as om te sê jou kind is verkeerd
  • Gebruik interaktiewe speletjies en humor
  • Beskryf wat jy doen terwyl jy dit doen
  • Vertel vir mekaar stories
  • Beperk skerm-tyd
  • Besoek die biblioteek gereeld en lees elke dag

So, wat kan jy as ouer doen om storie-tyd deel van jul gesin se roetine te maak?

  • Begin so vroeg as moontlik!
  • Kry ‘n stil, snoesige plek waar jy en jou kind/kinders saam kan sit om te lees.
  • Spandeer ten minste 10 minute elke dag om hardop vir jou kinders te lees – en geniet elke kosbare een van daardie minute!
  • Lees ten minste 3 stories elke dag – al is dit dieselfde storie. Kinders moet omtrent 1000 stories hoor voordat hulle kan begin lees.
  • Lees hardop en maak dit pret – laat jou stem die karakters se stemme/klanke namaak, lees hard en sag, lag en geniet dit saam!
  • Lees met vreugde en wys jou kinders dat jy dit geniet.
  • Lees die boeke wat jou kinders geniet – oor en oor en oor!
  • Vermeerder die woordeskat wat jou kinders hoor deur te praat oor die prentjies, of enige iets anders wat inpas by die storie.
  • Sing ‘n liedjie of sê ‘n rympie op wat oor dieselfde onderwerp gaan.
  • Soek stories wat rym, in ‘n lekker ritme lees of herhalings in het en kies kort stories om kleuters se aandag te behou.
  • Maak speletjies op deur jou kinders die sin te laat voltooi of die eerste letter van hulle name te soek.
  • Moet hulle nooit léér lees of boeke stresvol maak nie.
  • Lees elke dag hardop omdat dit vir jou heerlik is om tyd saam met jou kind te spandeer, nie omdat dit iets is wat jy moet doen nie.

Lekker lees en leer saam met jou kinders!

Bronne:

  • Up To Date
  • Dr Nické Theron, Pediater

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s