TRIPPE TRAPPE TONE

Ek’s seker ek hét gekyk waar die eerste trappie is. Ek’s amper 100% seker…

Hierdie mamma het heel Vrydag soos ‘n absolute vrot ma gevoel! Ek het met baba en al by ons boonste verdieping se trap afgeval. Darem net tot in die helfte van die trap…maar nogsteeds… 😬 Eina.

Met my baadjie onder die een arm, dummy & Telement in die hand, selfoon in die gatsak en baba op die heup, het ek aan die bopunt van die trap gestaan en vlugtig afgekyk. Ek was haastig. Ek misgis toe die tweede trap vir die eerste een, en daar steier ek vooroor, met enkels wat swik en voete wat skraap, soos ek probeer om vastrapplek te kry! Toe ek die teëls sien nader kom, en ons 2 aanhou gly, besef ek ons ontmoeting met die grond is onvermydelik. Ek probeer vir boetiebaba nader trek, maar met die momentum (en sy 10kg lyfie) “ka-plaks” ons boude-eerste op die harde teëltrap. Ek kreun, en boetie snak na sy asem – toe begin hy hartverskeurend huil. Gelukkig hou ek hom steeds vas (hy het genadiglik nie uit my arms geglip nie!) en alhoewel hy opsigself ‘okay’ lyk, kan ek hoor hy’s in pyn. Ek gil histeries vir my man om te kom help, en soos hy vir baba uit my arms tel, voel ek my eie seer: my elmboog, my linkerboud, my enkel (díé het alreeds ‘n golfbal-swelsel aan die vorm).

Ons uitstappie na Ongevalle en X-strale bevestig: geen gebreekte/gedislokeerde bene. Dankie, Vader. My enkel is net sleg verstuit. Maar boetiebaba het ‘n diep sny onder sy 3de toontjie… Só wag ons toe vir die chirurg wat hom heelmoontlik teater toe sal moet neem vir narkose en steke…

Die chirurg kom sien ons toe ‘n paar uur later in die kindersaal (genade, maar dis sleg om ‘n kind – wat nog te sê van ‘n borsvoedende baba – nil per mond te hou! Ek’t as dokter-mamma beslis nuwe perspektief en empatie bygekry). Steke is toe nie nodig nie! Ons kan sy voetjie konserwatief met verbande behandel – halleluja!

Oudste, met sy klein hartjie en kinderlike geloof, het by die huis al vir mamma en boetie se voete gebid. Pappa noem na die hele gedoente hoe hy tóé al gesien het hoe die voetjie se swelling sak…

Boetiebaba se naam-betekenisse het in hierdie (kort) 7 maande vir my werklik “lewendig” geword: Kampioen en God is genadig. Deur al die “trials & tribulations”…deur septiese skok en breinvliesontsteking en brongiolitis…en sy ma wat heel simpel was om nie aan die trapreëling vas te hou nie… Hy is ‘n dapper klein mensie & God is altyd genadig.

2 comments

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s