“For God has not given us a spirit of fear, but of power and of love and of a sound mind.” 2 Timothy 1:7 NKJV
Vrees is simpel. En sommer net boos. Dit ketting jou vas en belemmer dít wat God reeds (deur Sy gees) in jou geplaas het: Sý krag, Sý liefde en (bonatuurlike) selfbeheersing. Vrees wil soos ‘n parasiet aan ons kom vasklou. Twyfel, onsekerheid oor wie ons is, ‘n konstante gedagte-oorlog en aanval op ons emosies – dít is die (vrot) saad wat vrees in ons lewens wil saai.
Vrees is een van die kragtigste wapens wat die vyand teen ons wil (en kan) gebruik. Dit is ‘n slinkse aanvaller van ons emosies, en as ons nie paraat is nie, kan dit ‘n vastrap-plekkie in ons gedagtewêreld kry!
Vrees sê vir ons ons gaan dit nie maak nie, ons is nie sterk genoeg nie, nie waardig genoeg nie, nie regtig geliefd nie en dat ons nie eintlik iets spesiaals het om te bied nie. Dís waar die vyand ons wil hê – hy wil hê ons moet die leuens glo. Vrees wil ons verlam – sodat ons nie in ons lewensdoel kan GROEI en FLOREER nie. Ons God-gegewe talente wil hy help begrawe. Ons liggie word liefs onder ‘n emmer gebêre – want wie is ons om só helder te skyn?
So, hoe veg ons teen hierdie vrees-gedagtes? Deur die 2de deel van die skrif ons eie te maak: God het, deur Sy Gees, vir ons Sý krag en Sý liefde én selfbeheersing gegee. Ons hoef nie op ons eie krag staat te maak nie!
Het jy geweet: God se volmaakte liefde verdryf vrees? Ek vra Hom vandag om my te help om elke negatiewe- & vreesagtige gedagte gevangene te neem en te onderwerp aan Hom en Sy volmaakte VREDE & LIEFDE.
“Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.”
1 JOHANNES 4:18-19 AFR83
“Die Heilige Gees, wat deur God aan ons gegee is, is nie lafhartig nie, maar sterk. Hy maak ons ook sterk, gee vir ons liefde vir ander en help ons om nie verkeerde dinge te doen nie.” 2 Timoteus 1:7 DB
Oh ja, en mammas, onthou om vandag te SKYN! ♡