Vandag was ‘n wonderwerk-dag.
Jy ken daai dae wat jy voel jy wil eerder weghardloop en in die bed gaan klim met ‘n warm koppie tee en beskuit (óf koffie óf ‘hot chocolate’) en die duvet hoog optrek – want alles wat vandag moet gebeur, is net té veel!
Ek het onlangs weer voltyds begin werk (my 4 maande kraamverlof voel al soos iets in die verre verlede!) en my kollega (en goeie vriendin) is tans met ‘adoption leave’. So…daar word maar redelik soos ‘n af-kop-hoender rondgehardloop (ek drafstap regtig tussen die sale om tyd te spaar!) en elke nou en dan voel ek kompleet soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n smartie-boksie. Okay, sommige dae is beter as ander. Maar jy kry die idee, nê?
Oppad werk toe sing ek ‘n liedjie van Leeland…ons het hom die naweek by selgroep geluister…”Way maker, Miracle worker, Promise keeper, Light in the darkness…that is who You are
…” en ek gesels sommer met die Here…okay, dalk meer net soos “Here help my asseblief, ek het geen idee hoe ek alles vandag gedoen gaan kry nie! Ek stres, ek’s moeg, ek kan nie… Want sien, vandag moet ek saalrondtes doen (so 40 pasiënte), die studie-pasiënte kom, dis Morbiditeit & Mortaliteit vergadering, ek wil nog die beloofde babakleertjies by George Child Welfare gaan aflaai én êrens moet daar nog uitgemelk word ook!
Ek het nul “geestelik” gevoel (watookal dit beteken, nê) en na my eenvoudige vra-vir-hulp van Hom vroeër die oggend het daar niks “supernatural” gebeur nie. Of so het dit (aanvanklik) gelyk.
Ek het admin begin doen, e-posse gelees, oproepe gemaak, voorskrifte geskryf, pasiënte ontslaan. 10uur kom en gaan en ek wik en weeg of ek eers moet uitmelk of tog maar gou saal toe moet gaan. Ek kies die saal…en daar staan die vrou van George Child Welfare by ons hospitaal se apteek! Sy was (toevallig?) die oggend daar vir ‘n vergadering. As ek besluit het om eers uit te melk, sou ek haar gemis het! Ek kon toe sommer die babakleertjies vir haar gee. Een ding maklik afgehandel sonder rondryery! Halleluja.
Die volgende ding was die studie-pasiënte. Die enigste man wat sou kom, het gekanselleer – hy kom eers môre. Halleluja.
En toe is dit die M&M vergadering. My baas bied aan om die vergadering te lei. Hy het reeds ‘n paar onderwerpe wat hy wil bespreek. So, ek hoef nie voor te berei of Powerpoints te maak nie. Halleluja.
Die kersie op die koek (want ons dien ‘n Pappa-God met ‘n Vader-hart wat sy kinders soms ‘n bietjie wíl bederf), is dat ‘n onlangse kennis (wonderlike mens, mamma en besigheidvrou – meer oor haar later) vir my met iets spesiaals wil “bless”! (Dankie! Jy weet wie jy is😘)
Ek staan verstom. Een na die ander ding het in plek geval en uitgewerk. Hierdie “horrible”, amper-onmoontlike dag met ‘n lang lys van “to do’s” was toe op die ou end glad nie so sleg nie…
Gaan luister ‘Way Maker’:
https://youtu.be/iJCV_2H9xD0
Ek’s seker dit sal jou “bless”. Dit het vir my baie beteken.
Lekker slaap, mede-mammas,
♡