Dit voel die laaste tyd of ek op ‘n hamsterwielietjie vasgevang is en iemand het die hokkie se deurtjie styf toe gemaak. Ek beur net al aan vorentoe…ek móét vorentoe. Maar ek beweeg dan net mooi niks nie!😳 Vandag was beslis weer een van dáái dae – een vir die (mammadag)boeke…
Dit was ‘n warboel van snotneusies blaas, vuil vingertjies met ‘wetwipes’ afvee (na Oudste al weer die ou kole in die braai ontdek het – ek moet tóg vir manlief herinner om die braai skoon te maak), die swartkolle op die bank skoonmaak (ek was te laat met die ‘wetwipes’ 😬), neusdruppels ingooi (kleinboet háát dit), Panadostroop toedien, troos, eierbroodjies smeer (en Oudste soebat om asseblief ietsie te eet), saam met Oudste op die bed “bietjie gaan rus” (volgens hom gaan hy beslis nie slaap nie!), wéér troos, dan vir boetiebaba aan die slaap sus, net om te hoor hoe Oudste histeries in sy kamer huil… Gelukkig is my Regterhand ook in die mengelmoes van gebeure en ek stel haar gou aan om by kleinboet oor te vat (ek gaan regtig nog êrens ‘n huldeblyk aan haar skryf, want sjoe, sy’s een van die sterkste vroue wat ek ken …).
Bo in die kamer sit my kabouter kiertsregop, tamatierooi in die gesig, trane en snot wat loop (sorrie julle) en ‘n pynlike uitdrukking op sy gesiggie. Ek kan sien hy’s al weer koorsig… Jip, jy het reg afgelei… My 2 “mini-me’s” is siek. Al weer. Oudste kabouter is natuurlik laasweek vir die eerste keer in 6 weke terug skooltjie toe. Ons moes hom noodgedwonge vir ‘n tydjie uithaal oor hy al die skooltjie-kieme saam hom huistoe dra (dis hoe kleinboet in die hospitaal met meningitis opgeëindig het). Hy het dié keer nie eers ‘n week gehou tot die neusie begin loop het nie. En toe is dit boetie se beurt. En nou is dokter-mamma ook ‘n pasiënt. Probleem is net, vir mamma is daar nie rus nie. Huisdinge moet aangaan…en die kinders soek hul mamma. 100% van mamma.
Goeie d…donkie, besef ek nou: Ek’t al wéér te min water vandag gedrink…en daar lê my verlate 2 kopseerpille nog net so op die toonbank! Deur al die deurmekaarspul het ek (gelukkig) van my knaende min-slaap hoofpyn vergeet…
Vanaand is ek dankbaar vir ‘n stil huis. Ek luister…en hoor net Rupert, ons swart mini Schnauzer, se gesnork. Vanaand beteken die stilte: ons het dit “gemaak”, ‘we survived another day’, die kinders is rustig – pynvry en koorsvry. En hopelik is môre weer ‘n beter en helderder dag. Met méér grappies-en-lag en minder snot-en trane…
“Who’s with me”, mammas? 🙋🏼♀️
Vrede (amen!) & lekker slaap!
♡