Ek het my al aan beide kante van die spektrum bevind: bietjie té maer en effe té mollig.
Op skool was my metabolisme ‘n kalorie-etende masjien. Ek kon pakke ‘Speckled Eggs’ en 150g boksies Smarties (in die fliek) opeet…sonder om ‘n gram ekstra op te tel!
In Graad 9 het ek ‘n noupassende swart fluweelrokkie na ons skool se Valentynsdans gedra. Ek sal nooit vergeet hoe een van die aantreklike ouens in die klas vierkantig voor my kom staan het, sy arms uitgestrek met hande op my kaal skouerknoppe. “Sjoe, maar jy’s…máér”, was sy woorde. Ek het yskoud geword. Dalk was dit van die koue aandlug deur die oop saaldeur. Dalk was dit van skok…en skaamte.
Nou, op amper-32, is die nagevolge van 2 swangerskappe duidelik op my lyf sigbaar. Rolletjies om die middel (ek’s nogsteeds te moeg om te oefen…) en rekmerke op my maag (veral om die naeltjie), “penmerke” op my bene (daar’s niks uitspattigs aan spatare nie), en ‘n hele paar ekstra gryshare. Ek pas nou net in my ‘fat jeans’ en ‘leggings’…
Ten spyte van alles, is ek lief vir my lyf. Ek weet hierdie vleesboksie gaan nóóit weer kan lyk soos die jong-bokkie op universiteit nie! En dis okay.
Met hierdie liggaam het ek 2 seuns tot volterm gedra. Met hierdie liggaam het ek hulle in die wêreld gebring. Met hierdie liggaam het ek, en kan ek steeds vir Jongste, voed. Met hierdie liggaam sus ek vir skreeuende Boetie aan die slaap (al breek my rug en arms later af!). Met hierdie liggaam omvou ek vir snikkende Oudste as hy van sy ‘balance bike’ afgeval het. Met hierdie liggaam omhels ek my familie en vriende. En met hierdie liggaam is ek lief vir my wederhelfte.
Mede-mamma,
Wees vandag lief vir jou lyf!
Ons vergeet soms waartoe ons liggaam (en siel en gees) instaat is.
Vrede,
Alyssa ♡
Bravo!
LikeLiked by 1 person
Dankie! 😘
LikeLike