Ek het op hierdie stukkie afgekom en dit is baie gepas vir vandag se koue, triestige weer in George.
Hierdie wêreld is dikwels koud, donker, of sommer net boos. Die lewe is nie altyd nét maanskyn en rose nie…en vandag skets ons die donkerte en seerkry met woorde…
Maar voor ons té diep in die spelonk van negatiwiteit verdwaal 😊, word ons herinner dat daar altyd êrens HOOP is.
Onthou, daar is met elke nuwe dag ‘n sonsopkoms. En elke donker wolk het ‘n silwer randjie… Soms is ons visie net ‘n bietjie te ‘clouded’ om dit raak te sien.
|| J A M M E R ||
Deur Magda Burger
Du Toit se oordrom het gebars.
My hart wens om die pyn weg te neem.
“Mamma is jammer,” probeer ek troos.
“Hoekom is Mamma jammer?” vra hy.
“Ek is jammer dat jy so seer het,” huil ek saam.
Die hartseer knaag die maand aan my hart. Sommer net pure seer. Want die wêreld is ‘n seerplek. Sonder genade. Sonder pleisters.
Ek besef daar is mooi in die lewe, maar vir ‘n rukkie wil ek net ruk van snikke en my neus behoorlik uitblaas en nie na die misvormde prentjies van mooigoed tussen trane deur kyk nie.
Want partykeer bring die mooigoed die trane. Die liefdespand wat jy met trots gedra het. Die eens agtermekaar-mens wat alles kon doen. Die drome wat lugkastele gebly het. Die paradys waar daar nou net donker storms heers. Die oogwinke – wat dalk al jare kom – waarin alles verander.
Ek is jammer.
Miskien sal jy toelaat dat ek saam met jou in die reën sit.
Langs jou.
Ek kan nie die reën laat ophou nie… maar ek het dalk ‘n sambreel.
♡