Aan al die mammas met jong babas – hierdie een is vir julle…
My jongste, nou amper 4 maande oud, is stééds op die 2-uurlikse klok! Jy kan maar weet, as die uurwyser nader aan die 2-uur merk kruip, is dit asof daar ‘n alarmpie binne hom afgaan…en sy stembande aktiveer!
Die hele doek-voed-burp-sus-slaap siklus perk mens vreeslik in…wel, ten minste is dit voorspelbaar, nê?
Maar as ek eeeenige iets nie-babaverwant gedoen wil kry, is die normaalweg rustige ekke (kyk, ek hou van n bietjie ‘dawdle’) nou ‘n volwaardige ingeoefende ‘speedy gonzales’.
Dan is boetie ook ‘n regte ‘velcro’ baba. Tydens wakkertyd is hy nét in jou arms tevrede…en dan is hy nog kieskeurig ook: met hóm mag jy nie sit nie. Glo my, al is hy vas aan die slaap, wéét hy as jou boude die bank raak. Dan word daar behoorlik keel opgesit tot jy weer hom stap-stap in jou arms bons – tot jou rug lam is en jou arms wil afbreek…
En dan, as jy hom uiteindelik v.e.r.s.i.g.t.i.g in sy bedjie wil neerlê, maak Oudste die deur oop! My oë en mond vra hom om groot asseblief saggies weer uit te gaan…”Ek maak gou vir boetie aan die slaap”, fluister ek deur my tande. So oulik soos wat my oudste kabouter is, kan die hele baba-aan-die-slaap-kry-met-oudste-in-die-huis situasie soms baaaaie frustrerend raak!
My woelwater vra kliphard terug: “Slaap boetie?!” Ek skud my kop “ja”. En doef-doef-doef hardloop hy weer by die kamer uit…net om te onthou dat hy die kamerdeur moet toe trek (of in sy geval, meer soos toeklap). Gwaaah-kliek gaan die deur weer op knip. Ek sus en shhhhh shhhhhh shhhhh van voor af weer vir boetie, wie se oë natuurlik nou weer wawyd oop is. Gaaf, dankie seunie.
Sug.
O ja…en die ergste van als is: wanneer ek wel vir 5 minute op die kombuistoonbank sit en my nou-al-koue koppie rooibostee geniet, hoor ek (‘non-existent’) babas wat huil…
Wie weet waarvan ek praat??
Vrede vir julle,
♡
‘Dawdle’: talm, draai, tyd vermors
Ek weet waarvan jy praat. Ek het al vergeet, maar toe jy nou vertel, voel dit of die ek is van wie jy praat. 😁
Die boodskap van hoop wat ek altyd vir mammas gee, is: ‘Dit gaan oor.’
Sterkte.
LikeLiked by 1 person
Dankie! 😁
LikeLiked by 1 person
Thank you forr sharing this
LikeLiked by 1 person