Winter: loop-neusie-seisoen.
Daardie verdomde klewerige mukoïede substanse wat gestalte kry agter in jou baba se petite lugweë…dis regtig sleg.
En dit suig nóg meer as jou klein mensie as gevolg van díé goed nie kan asem kry nie!
Dit klink dalk simpel, maar ek sal jou sê, dit was vir my een van die mees angswekkende ervarings toe my jongste (toe 1 maand oud) erg benoud na sy asem gesnak het – babatjies haal hoofsaaklik deur hul neusies asem – en dít nog in die hospitaal en op suurstof!! Dis mal hoe vinnig so iets kan gebeur….
My boetiebaba was vir die tweede keer in ‘n week se tyd by die hospitaal opgeneem. Eerste keer, virale meningitis (sien op Facebookblad: ‘Meningitis – As jou brein pyn’). Dié keer met bot-toe longetjies, ribbekassie wat intrek en magie wat paradoksaal uitpop soos hy probeer asemhaal. Diagnose: RSV (sien ‘RSV – Really Stupid Virus’).
Later, veilig in die kindersaal, kan ek mos nou semi-ontspan. Vasgeplak teen sy klein wangbeentjies loop die nasale kanules wat suurstof volstoom in sy neusie blaas. Hy kry gereeld neusdruppeltjies om al die hardnekkige slyme los te maak en op te droog. Selfs die fisio kom beklop hom 2 keer per dag. Als was okay. Beter…En toe word dit nag. Letterlik.
Ek weet nou nog nie presies wat gebeur het nie, maar êrens deur die loop van die nag (en kyk, nagtelike ure in ‘n hospitaal kan laaaaank voel!) het hy begin benoud word. Nie van sy borsie nie, maar van sy toe neus! Druppels word klokslag ingegooi, suurstof hardloop op ‘full blast’ en skielik sit ek met ‘n kermende mensie wat hyg-hyg en gor-gor snak na sy asem!
Dank Vader die pediater het vroeg rondte kom doen en hom haastig by my geneem toe sy sien hoe hy sukkel en stoei.
Nou ja, slyme is uitgesuig (die goed gaan lê glo soos ‘n oester agter in die nasofariks), nóg neusdruppeltjies…en my klein mensie skep weer genoeg lug om hom te verlustig aan moedersmelk…
Vrede,
Alyssa ♡
NS. As dit by jou eie kinders kom, raak die skerpste dokter maar lekker dom. Skies, ek veralgemeen nou erg. Maar ons is net nie objektief genoeg nie. Daar’s net té veel emosies betrokke. Daarom is ek maar eerder oorversigtig en kry maklik ‘n tweede opinie. My kinders het ‘n wonderlike pediater…
Foto:
My vriendin het hierdie oulike apparaat aangekoop – die BabyVac. Dit werk soos ‘n bom. Konnekteer hom aan die stofsuier en ‘whaa-laa’.
(Kry hom by Dis-Chem Pharmacies)
Oppas net vir té veel gebruik – dit kan die delikate slymvliese irriteer om nóg meer slym te produseer en swelling te veroorsaak. Sien die vervaardigers se aanwysings.
Sjoe ek is bly julle is deur, anderkant uit. Vir gewone verkoue het ‘n oom my die raad gegee om die bedjie effens te lig aan die kopkant en die baba op sy sy te laat slaap. Dit het nogal gehelp om die een neusgat effens oop te hou.
LikeLike
Dankie dat jy saam lees en vir die kommentaar! Ja, ons is beslis ook dankbaar ons is anderkant uit. Kleinding is nou al amper 4 maande oud… Dankie ook vir die raad! ♡
LikeLiked by 1 person